Facebook

    

 

Die wiele het begin rol …

Vir Finesse

Deur Annalise Wiid

 

Die wiele het begin rol die verjaardag toe my ma vir my die koffiemakertjie present gegee het wat ek nou nog elke dag gebruik en my pelle my diep in die nag met kerslig kom serenade het… Toe ek ordentlik wakker gesing was, het hulle my huis ingebars met groot vrolikheid en voorraad. Ons het eers sjampanje gedrink en toe deur baie koffie en koek gekuier. In die klein uurtjies van die oggend het ek uiteindelik teruggeklim in my bed, die gordyne oopgetrek sodat ek die sterre kon sien, en my dagboek op my opgetrekte knieë gebalanseer om die lekker nagkuier vir later se onthou neer te skryf. Onder aan die relaas van daardie aand staan hierdie wiel-rol-verjaardaggebed aangeteken: “Vader, ek vra drie dinge asseblief: Dat U my geloof sal laat groei. Dat ek U beter mag ken. En dat U volmaakte wil in my lewe sal gebeur. En ek sê solank dankie!”

Nee, ek is nou verkeerd. Die wiele het nie tóé begin rol nie. Hulle het toe net nuwe momentum gekry. Hulle was immers lankal aan die rol. Ek het met so ‘n wonderlike bewustheid van God se bestaan en liefde grootgeword, dat dit vir my maklik was om hier rondom agtjarige ouderdom myself vrymoedig vir Hom te gee. En ek het rustig deur my kinderjare saam met Hom geleef, tot ek gaan kuns swot het na skool en my geloofswiele deur ‘n rits aardskuddende ervarings bietjie ontspoor het. Ek het eers twee, drie jaar na ek klaar geswot het begin besef dat ek God mis. Daai tyd werk ek in Worcester as grafiese kunstenaar, waar ‘n indrukwekkende jongman op ‘n dag by my kantoor instap en my knieë laat knak. Nie oor sy mooi uiterlike nie, snaaks genoeg, maar oor sy innerlike wat iets van Jesus s’n weerspieël het. Hy het my hart weer hemelwaarts laat draai…

 

En van toe af loop ek maar so kaalvoet agter die Here aan. Eers Bybelskool toe in Engeland. Vir ‘n jaar lank het ek, soos in ‘n sprokie, in ‘n ou kasteel op ‘n groen landgoed naby die Lake District gebly, waar ek na hartelus die Bybel kon eet soos heuningkoek! Nodeloos om te sê: Ek het ‘n nuwe mens teruggekom…

Spoilt for the ordinary”, volgens my Ouma. En dit was ook so. Gewone kunswerk in ‘n gewone kantoor was net nie meer vir my nie. Daar was dan ‘n hele stukkende wêreld daarbuite wat God se liefde baie nodiger gehad het as my advertensieprentjies! Ek het net nie mooi geweet hoe om Sy liefde vir die wêreld te wys nie. So, ek het maar soek-soek Sy spoor bly sny. Op verskeie korttermynuitreike na Europa, ‘n bietjie mure verf en musiek maak saam met straatbendes, drie maande se skottelgoedwas op die Doulos-sendingskip en lewensverruimende blitsbesoeke aan Botswana, Bosnië, Bulgarye en Indië. Met tussenin baie doodgewone opstaan, werk, gaan slaap en aanhou glo-dae. Daardeur het Hy tydsaam en doelgerig die verjaardaggebed wat Hy in my hart gelê het beantwoord.

Wat ek geleer het, het ek vir my vriende aangegee in ‘n self saamgeflanste-Bybelskool. Maar ek het my snoesigste pasplek in God se plan gevind toe ek begin songs en stories skryf oor die dinge wat my aan die hart gryp. Met die jare het ‘n boek en vyf CD’s gestalte gekry – Kaalvoet was die eerste. En geleidelik het ek sanger, spreker en skrywer geword in plaas van grafiese kunstenaar. Met die grootste denkbare vrede in my hart rondom dié loopbaanskuif. Dit is asof ‘n vooraf uitgewerkte plan homself stelselmatig ontvou soos die dae en geleenthede by my aanklop.

‘n Glad-geplaveide paadjie was dit egter nie. Daarom dat ek in my Vroue-wat-glo-lied sing: “n Vrou wat glo kan twyfel ook…” Hoewel daar honderde skitterende hoogtepunte was, was daar ook soms sielsverlammende seer. Kort na Kaalvoet se verskyning, was ons in ‘n motorongeluk waarin my sus se tienjaaroud seuntjie dood is. Ek was nie meer lus om te sing nie, maar die ontsettende, aardige wete dat ek bly leef het terwyl hy moes sterf, het my laat aanhou. Asof ek met nuwe drif die léwe in mense wou aanvuur! Elke keer as ek ervaar hoe ‘n gehoor hulleself vir my en vir God oopmaak, en hoe die Here hulle aanraak en bedien, kry my lewe en my werk sin. Ook die Boerneef- en Sheila Cussons-programme saam met Helena Conradie was verruklik sinvol..

Maar my lewenspas was onverstandig woes, en ek het kop eerste in die gat van uitbranding en gevolglike depressie geval. Daar is party soorte ellendes wat mens nie maklik onder woorde bring nie – veral nie in ‘n tydskrif nie. Genoeg om te sê: My wiele het ernstig gedreig om heeltemal af te val. Boonop het velkanker my hierdie jaar ‘n lelike hou in die gesig kom hap. En my met ‘n nog groter bewustheid van ons brose breekbaarheid gelos.

Maar Vader-God was goed vir my. Is goed vir my! Elke pynlike ervaring in my lewe het nog (genadiglik!) die uiteindelike gevolg gehad dat Sy dieper genade my vaster gryp en dat ek Hom nog liewer kry! Maak nie saak hoe veel en hoe lank en hoe hard ek tot by daardie punt sukkel nie. Uiteindelik voel ek myself weer omring van genade en weet ek onwrikbaar dat God liefdevol by my is – in die lekker én in die swaar. Hoe langer ek leef, hoe dankbaarder word ek vir Sy ontferming!

Die afgelope vier jaar het my noodgedwonge geleer om myself beter te ken, te versorg en lief te hê. My gunsteling sêding deesdae kom van ‘n Huletts suikersakkie op ‘n restauranttafel: “Life is full of cactus but we don’t have to sit on it!” Om party goed het ek wye draaie leer gooi. Ander goed weer, het ek leer koester en omhels met onbevange oorgawe. Dit is vir my ‘n groot bonus om in my werk soveel diep, hart-kontak met soveel wonderlike mense te hê, maar ek is ‘n onomkeerbare introvert wat ‘n oormaat stil, alleentyd nodig het. By die see of ‘n rivier, by ‘n kaggel of ‘n kers… waar ek kan stap of sit en lees, uithaak en simpel raak of sommer net wees… Dis dáár waar ek batterye herlaai. Alleen met God. En by my klein groepie hand-uitgesoekte, gunsteling mense wat ek buitensporig liefhet! Sonder hulle stort ek summier in duie.

Een van my kosbaarste besittings is ‘n skildery van kleikruike en kappertjies wat ek vroeër vanjaar present gekry het toe ek in Zimbabwe opgetree het. Dit herinner my daagliks aan 2 Korintiërs 4 wat sê: Ons is maar kleipotte wat maklik breek, maar binne-in ons is ‘n skat: Die kennis en die allesoortreffende krag van Jesus Christus! As ek na dié skildery kyk, sien ek weer voor my geestesoog die Zim-vroue se aangrypende geloof, hoop en liefde te midde van skreiende seer. Hulle het my só besiel! En dan bid ek vir die soveelste keer my laat-die-wiele-rol-gebed: “Liewe, dierbare Vader, sal U asseblief my geloof laat groei? Dat ek U nog beter mag ken. En dat U goeie wil in my lewe sal gebeur. Tot U eer. Amen.”

Aangesien Kersfees Jesus se verjaardag is, is dit ook my feesgebed vir elke Finesse-leser. Met ‘n baie groot dankie!