Facebook

    

 

Die kuns van kalmwees

Vir Lééf – met hart en siel, 2008

Deur Annalise Wiid

 

Dit is nou nie juis die soort ding wat jy in jou gebede aanvra nie: Etlike minute voor ek moet lughawe toe, buk ek om gou die vullis uit te sit en daar gaan my rug! Oombliklik is my lyf vol pyn en spasma. Ek kan nie regop nie, ook nie vorentoe of agtertoe nie. Paniek tref my met die slaankrag van ‘n stormwind! Wat nou? Skuifel telefoon toe en bel die dokter. Nee, bel my ma!

Al twee kom. Die dokter om my in te spuit. Ma om my lughawe toe te vat. Albei sê: “Moenie vlieg nie.” Ek sê: “Ek móét. Ek is op pad Newcastle toe vir ‘n gemeente kamp en daarna moet ek nog ‘n week in Pretoria wees vir opnames. Ek kan nie nou kanselleer nie. Nie so op die nippertjie nie. Te veel mense se tyd en beplanning sal in die slag bly. Nee, nou moet ek maar net tandekners en deurdruk …” >>

 

Vir myself sê ek: “Toemaar, toemaar, wees net rustig, bly nou net kalm. Die inspuiting sal nounou begin trek, dan voel jy weer jou ou self.”

Maar dit gebeur nie. Teen die tyd dat ons by Kaapstad Internasionale lughawe kom huil ek onbeskaamd en onkeerbaar soos ‘n klein dogtertjie met nerf-af knieë. Die lughawe personeel kyk my grootoog aan. Hulle eggo my ma en die dokter: “Jy sal nie kan vlieg nie.” Ek weet hulle is reg. Maar ek weet ook van die naweek wat voorlê en van meer as ‘n jaar se beplanning en uitsien. Ek voel my rug en my paniek en ek wil dadelik teruggaan huis toe en in my eie, warm troosbed gaan lê. Almal om my se gesigte sê dit sal die beste rug-ding wees om te doen. Ek dink aan swaar tasse en opstyg en land en baie ure op die pad … en die paniekwind waai my van my voete af.

Toe gaan sit ek versigtig, met ‘n pyngil, in die swart lughawe rolstoel en sê: “Wag, laat ek net eers dink.” En midde-in die frenetiese vertreksaal rumoer, tussen al die vraende, besorgde, angstige mense, maak ek my oë toe en soek die stil kolletjie diep in my siel waar alles tot rus kom en waar Wysheid woon … Daar bly ek tot die storm bedaar; tot al my woelige emosies met wéét plekke ruil. Toe maak ek my oë oop en vra: “Vat my asseblief vliegtuig toe.”

Baie pynpille later, toe ek al ernstig begin bevraagteken of ek nou regtig so watwonders wys was om na daai stil binne-stemmetjie te luister, lê ek op ‘n Chinese chiropraktisyn se behandeltafel – boude boontoe. Bang! Bang vir die vreemde pyn wat my met skerp kloue beet het. Bang vir die baie werk wat wag en waarvoor ek nie kans sien nie. Onstuimig in my binneste! Klassieke musiek speel berekend sag in die agtergrond. Veronderstel om pasiente ‘n salige ontspannenheid in te sus. Die Chineesie klop my met ‘n bakhand op en af werwellangs. Nes ek wil begin skree van die seer, verander hy van tegniek en streelmasseer al my weerstand weg. Mettertyd kom lê kalmte oor my lyf, soos ‘n sagte lap. Dit sak in my in, soos soetsous in ‘n oondwarm poeding. Die Chinees tik my laggend op die boud en sê, nasaal, asof hy noedels in sy neus het: “Now keep head soft.”

Goeie raad. Maar, soos alle goeie rate, makliker gesê as gedaan. Kalmwees is ‘n kuns. ‘n Mens is nie vanselfsprekend met die gawe van onversteurbare beheerstheid gebore nie. Jy hou nie jou head sonder moeite soft nie. Kalmte is ‘n ding wat die meeste van ons moet aanleer, bemeester en beoefen, soos enige kuns. En, soos alle goeie kuns, is dit ‘n groot bate – veral in verhoudings.

Pilot Loots, Konsultant in Menslike Ontwikkeling en Klinies Pastorale Terapeut, waarsku dat ‘n mens gewoon net mooi niks bereik wanneer jy nie uit kalmte optree nie. Die lewe konfronteer jou met rasionele en emosionele sake en ‘n mens mag dit nie verwar nie. ‘n Mens kan nie rasionele sake met emosionele optrede hanteer  nie. Wanneer rasionele sake op die tafel is vra dit rasionele optrede. Net so vra emosionele aangeleenthede emosionele betrokkenheid. Die probleem is, dat wanneer ‘n mens die een met die ander probeer aanspreek, dit lei tot argumente, beskuldigings, verduidelikings en dikwels verwyder dit mense van mekaar. Van die vrotste besluite (rasioneel) wat ‘n mens in jou lewe kan neem, kan wees as gevolg van emosionele aksie: Jy is moeg vir jou motor, teleurgesteld in jou kind, moedeloos oor jou situasie ens.

Kalmte is ‘n keuse, sê hy. Eerstens wil ‘n mens as kind van die Here optree soos ‘n beelddraer van God en niks mag hierdie keuse beïnvloed nie – nie situasies nie en veral nie die optrede van ander mense nie; byvoorbeeld: sy skree en nou skree ek terug. Dan laat ‘n mens toe dat iemand anders jou optrede, jou keuse en gedrag manipuleer. Tweedens moet jy onthou dat as jy vir respek kies, moet jy dit ook toepas wanneer jy met ander mense en situasies te doen kry en hulle met respek en waardigheid hanteer. En wees jaloers op jou selfrespek. Moet dit nie verloor nie! Derdens moet jy jouself die vraag afvra: Werk dit as ek uit woede en nie uit kalmte nie optree? Wat het ek al daarmee bereik? Hou mense van my as ek uit irritasie, frustrasie of woede optree? Voel mense tuis en op hulle gemak by my of vrees hulle dalk die volgende onvoorspelbare uitbarsting? Ervaar mense my agting vir hulle wanneer ek onbeheers optree? Stal ek my beste eienskappe uit wanneer ek nie kalm is nie? Wil ek konstruktief of destruktief wees?

Kalmte skep ‘n verhoudingsklimaat waarbinne gesprek en onderhandeling kan plaasvind. Met woede het ‘n mens geen kans nie. Die antwoorde op die vrae hierbo bevestig dit. Maar kalmte gee ‘n mens die kans om iets te bereik: Konflik op te los, goeie besluite te neem, God se beeld te dra, selfrespek te behou en ander met waardigheid te hanteer.

Kalmte, het George Herbert gesê, lyk altyd soos God.

Boonop is dit nie net bevorderlik vir verhoudings nie, dis ook goed vir eie gemoed. Dit ervaar ek aan eie bas toe ek vir twee weke moet bly lê met my rug. Nee! Dit is nie naastenby so lekker soos dit klink nie. Dit is swaar! Baie swaarder as wat ek verwag het. Ek kry vir die eerste paar dae glad nie reg om af te skakel en te bedaar nie. Ek stry en stoei en stres oor sperdatums, doenlysies, ‘n vol dagboek en leë ure wat onverwoordbaar frustrerend verbysnel … Daar woed gelyktydig ‘n stormsee en ‘n suidooswind in my kop. Vergeet van kalmte. Dink, nee ervaar: Ongedurig, ongeduldig, gejaagd, tranerig, kriewelrig, knorrig, befoeterd … Intussen word die pyn erger en die medici se grootwoorde meer. Vrees vreet enigiets wat na kalmte lyk met vinnige walvishappe op! Tot ek myself een oggend op die boud tik en so ferm as moontlik sê: Now keep head soft.

Dit laat die hemele oopgaan! En skakel my binnemens oor in ‘n ander rat.

Ek begin luister. Fyn. Ek hoor ‘n piet-my-vrou roep, roep, roep. Reën teen die ruite, in die bome en op my gemoed. Spreeus wat jil in die nattigheid soos kinders in ‘n somerswembad. En stadigaan, met die gang van baie dae, word die dissonante klanke van pyn en paniek uitgedoof deur ‘n stil aanvaarding. Ek hoor my eie gebede verander – van angstige pleidooie tot sagter, intiemer, vuurherdgesprekke. En ek haal dieper, rustiger asem.

Ek lees. Die mooi, maar verganklike taal van die blomme wat my kamer mooimaak. Blushing brides. Die blou lug se gedig. Later, die wolke wat luimig wissel van vorm en kleur en weerstandloos waai waar die wind wil, by ‘n reënboog verby. Ek lees die gesigte en die lyftaal van geliefdes wat my kom besoek en versorg. Ek sien suiwer goud, onkoopbare diamante. En ek word toegevou in ‘n sagte Godkombersie.

Ek lees ook Alan Paton se Cry, the beloved country en staan (of liewer, lê) lank stil by hierdie woorde: Ek glo, het hy gesê, maar ek het geleer dat dit ‘n geheimenis is. Pyn en swaarkry, dit is ook ‘n geheimenis. Goedheid en liefde, dit is ‘n geheimenis. Maar ek het geleer dat goedheid en liefde kan betaal vir pyn en swaarkry. En ék leer dat ‘n deel van goedheid en liefde se geheimenis is dat dit storms kalmeer. Dit maak nie saak of jy aan die gee-kant of aan die ontvang-kant daarvan staan nie – na alle kante toe laat bedaar goedheid en liefde die stormagtige gevolge van pyn en swaarkry. Dit bring ‘n sielsversadigende vrede.

Ek laat los. Alles wat ek in elk geval nie kan vashou nie, of my verbeel het ek kan. Veral my fynbeplande agenda, maar meer as enigiets, my behoefte om te beheer. Dit is die heel moeilikste: Om die ek-is-nie-in-beheer-nie krampagtigheid te laat gaan - soos ‘n ballon die lug in ... Om dit dan met oop, ontspanne hande agterna te kyk en kalm te bly, te wéét ek kan tóg steeds in beheer van myself bly, al is ek nie in beheer van my omstandighede nie, dít is voorwaar ‘n kuns om te bemeester!

Het Trevor Hudson dan nie juis gebid: Here, gee my die kalmte om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie …? Dit vra meer oefening en gebed as al die ander goed saam. Dit is amper so onmoontlik soos om nie hoendervleis te kry nie as dit koud is. Maar, wanneer jy dit regkry om die realiteite en die dinge wat jou laat ontvlam vierkant in die oë te kyk, word kalmte ‘n warmbaadjie beskutting wat jou die voordeel gee dat jy kan kies hoe jy op die onbeheerbare, die onvermydelike, en dikwels ook die onvoorspelbare, wil reageer.

Dooierig rustig wil ek egter ook nie word nie. Dan verloor kalmte al sy waarde. Lyk my hoeka die woord kalm is geskaak deur al wat ‘n daggasmous, leke-terapeut en kwasi-natuuropaat is – met swewende beloftes van hemel op aarde en ontsnapping uit die werklikheid. Nee dankie! Wie wil nou permanent ‘n prozacpoppie wees? Dan kom die lewe tog tot stilstand en alle avontuur vlieg by die venster uit! Daar is nog derduisende dinge wat gedoen moet word en goeters wat gegee wil word. Daar wag nog vele ervarings, ekstases en ekskursies … ‘n Mens wil mos darem nie jou eie lewe mis nie. Buitendien, kalm waters het nog nooit goeie matrose opgelewer nie. En slaapgesusde christene was nog nooit tot enige iemand se voordeel nie. Nee, asseblief nee! Kom ons wees net kalm genoeg om ons vol bekers met ‘n steady hand te kan dra. Dít is beslis ‘n kuns wat die moeite werd is om te bemeester!

 

Voxpops:

ANNA DAVEL, musikant, sanger, liedjieskrywer

Dit is vir my belangrik om selfrespek en respek vir ander mense te behou en as ek nie beheer het oor my negatiewe emosies nie verloor ek myself. Ek hou nie van die persoon wat ek is as ek nie weldeurdag en sinvol met mense en situasies kan omgaan nie. Mense is broos en woorde en dade kan vir 'n leeftyd 'n indruk maak.

As alles in jou lewe van jouself afgehang het sou die spanning ondraaglik gewees het, maar as jy jouself herinner dat jy onder God se beskerming is kan jy diep uitasem...daardie kalmte en totale oorgawe kan mens vir niemand verduidelik nie.

 

CHRISTA STEYN, komponis, verwerker, musikant

Ek is nie baie grênd met sulke goed nie maar ek kan net in eerlikheid sê kalmte kan 'n mens net kry as jy vrede het. En vrede kan jy net kry as jy 'n fondament het. Christus is my hele fondasie en daarop kan ek planne optrek, bou en vrede en standvastigheid kry. Kalmte is seker een van die mooiste eienskappe wat 'n mens kan hê.

 

LIZZ MEIRING, aktrise, reggiseur, rubriekskrywer, dramaturg

Ek glo nie vreeslik in kalm wees nie, want ek is 'n trotse, onbeskaamde adrenalien junkie. Als in my werk gaan oor adrenalien. Wanneer ek wel wil en kan ontspan, gaan stap ek kaalvoet in my tuin, neem ek so 'n power nap, of ek gaan bad … Dan voel ek letterlik hoe my batterye herlaai. Daai kalm tye hou nie lank nie, want ek's gans te besig in my kop, en te kreatief nuuskierig om vir lank af te sluit. Kalmte kan vreeslik vervelig wees!

 

LIEB BESTER, akteur

In 'n wêreld wat wemel van die negatiewe is kalmte voorwaar 'n bate ... dit stem jou tot rustigheid in die die onstuimige lewenssee terwyl jy in die wete leef: God is in beheer, soos Christus sy dissipels geleer het. Deur genade konsentreer 'n mens dan op die positiewe en jou lewensfilosofie word: wat kan ek vir ander beteken, instede van: wat gaan die uitwerking van 'n gebeure, hetsy geweld, misdaad, swak ekonomie, of wat ookal, op my lewe wees. Daarmee saam skep kalmte 'n orde in die wanorde wanneer dinge lyk of dit handuit wil ruk en stem dit mens tot nugter denke.

 

AMANDA SWANEPOEL, Koördinerder, Nitsa Netwerk, wat mense inspireer om die ‘verskil te wórd’

Ek smag daarna dat God se vrede deur elke vesel van my lyf sal vloei tot ek heeltemal daarmee deurdrenk is. Dit is wel sommige dae makliker as ander, maar die geheim lê in die feit dat ‘n mens sal bly soek daarna. Ek is absoluut oortuig daarvan dat die kweek van kalmte begin deur bewustelik tyd af te sonder en vir God daarvoor te vra. Dis ‘n groot voorreg om te sien hoe familielede, kolegas en ander persone in jou teenwoordigheid rustig word ...

 

Maar kalmte, wit kalmte, is gebore in ‘n swaan.

ELIZABETH COATSWORTH

 

Nothing is so aggravating as calmness.”

OSCAR WILDE