Facebook

    

 

Kom breek saam met my brood

Vir Lééf – met hart en siel, Pase 2010

Deur Annalise Wiid

 

Is daar ’n suiwerder vorm van gasvryheid as dit? Jesus wat álles gee: sy liggaam, sy léwe; en dan nooi: “neem, eet ...”

Destyds, toe ek my houvas op die lewe verloor het, het ’n vriendin my Engeland toe laat vlieg, op haar koste, en my vir ’n week net in haar huis laat huil. Daarná is ek oor Noord-Ierland toe. Ken en Eva het hulle huis en hulle harte vir my oopgegooi: my, troosvol, laat tuiskom in die allerlieflikste gastekamer in wit en sagte wedgewood-blou, met ’n selfsorg ontbythoekie, toegerus met genoeg voorraad vir ’n maandlange beleg; ’n bergstroompie het bo uit die Mountains of Mourne reg langs my kamervenster af see toe gekabbel en nimmereindigend wiegeliedjies gesing; ek het vrye toegang tot hulle hordes wonderlike boeke, dvd’s en cd’s gehad, kon slaap wanneer en hoe lank ek wou, het nie nodig gehad om te praat as die woorde nie wou uitkom nie, of om by hulle huisroetine in te pas om die lewe vir my gasheer en sy vrou gerieflik te maak nie; inteendeel, ek was toegelaat om maar net te wees ... om my eie pas te bepaal – sonder enige druk of beperkings. Ken het net met my aankoms gesê: “Do whatever you want – even if it is nothing. And if you want us to do it with you, just tell us. Remember we are here for you.”

Dit was een van die kosbaarste ervarings van my lewe! >>

 

En dan was daar ook, meer onlangs, die keer toe die vrou die vol asbakkie en die twee pype met haar regterhand eenkant toe gestoot het terwyl haar linkerhand terselfdertyd met ’n klam vadoek die twakfrummels en koekkrummels van die tafel afvee. “Ons kuier maar gewoonlik sommer almal hier om die tafel”, het sy gesê. Nie verskonend nie. Verduidelikend. Uitnodigend. Sonder spanning. En toe het sy gaan tee haal. Lekker sterk rooibos. En van Kersfees se oorskiet vrugtekoek en die-Spar-om-die-draai se koeksusters. Ons het die koekbordjies geïgnoreer en die eetgoed, sonder seremonie, met die hand gevat. Want die tafel was van gewone hout. Geskrop. Gestroop. Sonder ‘n deftige doek. Sonder blomme of blaker. En die koppies was al oud-gebruik; lankal nie meer te watse nie. Daar was nie gordyne voor die vensters nie. Dit was nie nodig nie. Die see deur die oop ruite was gelyktydig skildery en streelmusiek. Die atmosfeer was so gemoedelik, so gasvry; en die gesels om daai eenvoudige tafel was só gemaklik dat ons kon woorde kry vir verpletterende sowel as vir helende dinge.

Gasvry. So ’n gul, óópdeur-woord! Om jou gas vry te maak, vry te laat vóél – vry om tuis te kom, te ontspan. Welkom om te deel in hartgoed en kuierkos. Vry om te waag om te wéés – net doodgewoon méns te wees – sonder koes of keer. Want gasvryheid het ook te doen met veiligvoel.

Onthaalkuns en gasvryheid is natuurlik nie noodwendig tafelmaats nie. Die een beïndruk, die ander bedien. Die een voed dalk net die liggaam, die ander voed beide liggaam en gees. Nie dat gasvryheid nie ook kunstig en keurig kan wees nie. Net dat die beste eetservies en kristalglase nie ’n noodsaak is nie – of ‘n waarborg dat jou gaste genoegsaam gaan ontspan vir ’n hartkuier nie. ’n Vriendin se seun het ná ’n spesiale ete by mense gesê: “Ja Mamma, die kos was lekker en die tannie was vriendelik, maar sy was ‘n bietjie scary ook. Net haar mond het gelag. Haar oë het die hele tyd kwaai gekyk.”

Gasvryheid het vele gesigte. In Sandton lyk dit anders as in Soebatsfontein; in Bishop Lavis anders as in Bishop’s Court. Om van die verskille tussen ons en die res van die wêreld nie eers te praat nie! As ek maar dink aan die verskil tussen die deursnit Engelsman en Ier. By die een maak jy ’n formele afspraak, by die ander klop jy bevliegingsgewys sommer net aan die deur en jy’s altyd welkom. Daarvan gepraat: hoe máák jy met die ongenooide, onwelkome gas wat skielik, óp etenstyd, opdaag? Of wat nie weer sy ry kry nie? Baie van ons neem mense deesdae eerder uit vir ete as om hulle tuis te ontvang. Dit word toenemend ‘n karaktertrek van ons individualistiese samelewing: my huis is my privaat ruimte – ek bewaak dit met hand en tand. Ek sal ander mense verkieslik elders ontmoet.

In die Bybelse tyd was dit nogal anders as nou met ons. Hulle het nie ons moderne soort individualisme geken nie. Hulle s’n was ’n veel meer sosiale samelewing – met die welstand van die gemeenskap wat altyd groter prioriteit gedra het as die enkeling. Die Bybelse oproepe tot gasvryheid spruit hieruit voort. Onthou jy hoe Jesus aan die einde van Matteus gesê het: “Ek was ’n vreemdeling en julle het my gehuisves ... vir sover julle dit aan die geringstes van hierdie broers van my gedoen het ... ” ’n Ander woord vir gasvryheid is herbergsaamheid. Mooi, né?

Gasvryheid lê ingebed in ons kulture en tradisies. Dis vervleg met ons gewoontes, ons geskiedenis, ons persoonlikheid, ervarings en behoeftes. Hoe ons dit aanbied en beleef, dra die gesig van ons voor- en afkeure. Digby Kamieskroon is ek al ‘n braaitjop sommer op die punt van ‘n knipmes aangegee – reg langs die vuur – en dit was heerlik! In Pella was daar dadels in ’n klein korbeelhuisie; en dit het sy boepenskoepeltjie soos kerk laat voel. Ek kon ook wyn, sommer uit die bottel, drink op ’n Kroatiese strand. Slangsosaties het ek grillerig geweier op ’n Oosterse sypaadjie. Ek moes al vir twee weke op kaal sement slaap en dit was verkiesliker as die twee nagte in die sagte bed met ‘n dooie by onder die duvet en lang swart ander-mens-se-hare op die kussingsloop!

Gasvrywees kom nie vir almal ewe maklik nie. Vir party van ons is dit ’n aangeleerde vaardigheid; vir ander ’n genadegawe, ’n gemaklike, spontane uitvloei van hulle persoonlikheid. Hoe ookal, wanneer ons gasvry leef, wys ons ook vir mekaar God se gesig; die Een oor wie Dawid in Psalm 23 skryf: “U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid”.

Gasvryheid het te doen met innooi – in in ‘n ruimte waarin ons saamwees iets sê van ons geloof en ons agting vir mekaar. Attie is baie siek. Ons nooi hom vir tee. Dek so mooi as moontlik. Sorg vir klein, gesonde eetgoedjies. Hy waardeer dit ontsettend. Spandeer egter die meeste van sy kuiertyd nie aan tafel nie, maar om op sy eie deur my tuintjie te dwaal. Hy het die rustigheid en die verkwikking daarvan meer nodig as tafelpraatjies. Dit is goed so. Die res van ons kuier om die teepot en gun hom die tuinstilte waarna sy siel smag.

Aan die tafel, met die Paasmaal, breek die Here self die brood ...” So sing die kerk oor eeue al. Is daar ’n suiwerder vorm van gasvryheid as dit? Jesus wat álles gee: sy liggaam, sy léwe; en dan nooi: “neem, eet ...”

In Indië stap ons een oggend byna ’n driekwartier ver die veld in tot by ’n alleenstaande turkooisgeverfde rietdakhuisie wat soos iets uit ’n kinderboek lyk. Soos in die Bybelse tyd, word ons dadelik water aangebied om ons moeggeloopte stofvoete te was. Toe nooi die man ons in. Daar is net ’n kleivloer, ’n katel, twee bokke en drie hoenders binne. “Sit”, beduie hy. Vriendelik. Na seker ’n halfuur se sit, kom ’n jongmeisie met ’n skinkbordjie stinkafrikaner blommetjies in. Bied dit met ’n buiging vir ons elkeen aan. Wat ’n uitsonderlike manier om gasvryheid te betoon, dink ek – om vir elke gas sy eie blom te bring! Tot my verbystering besef ek sekondes later dit is die voorgereg – toe my Indiese kollegas dit met smaak verorber!

Die ete wat gevolg het, was berge rys met ’n waterige hoendersousie wat bedrieglik onskadelik lyk, totdat hy jou agterkeel tref en die rissies jou slukderm verrinneweer tot jou oë traan. En daar was brood. Chapati’s wat die gasvrou sommer op die kombuisvloer gerol en platgedruk het en in ’n baie vuil pannetjie oor ’n oop vuur gebak het. Ons moes ons vooropgestelde idees en besware oor higiëne haastig sluk toe ons besef: dit is haar hele week se kosvoorraad wat sy nou, in één maaltyd vir ons voorsit! Haar blydskap oor ons koms, het haar kommer oor wat hulle die res van die week gaan eet, oorskadu. Sy was so gul as wat sy kon wees met alles wat sy gehad het. Dalk was dít die kosbaarste brood wat ek nog ooit saam met iemand kon breek.

 

Vox pops:

BRENDA LOUW, Analis (batebestuur, finansiële dienste), Kaapstad, 35.

Gasvryheid (wanneer ek gee-kant is), berus op inklusiwiteit: om mense te verwelkom – in my huis, mygeselskap – sonder om grense te stel op grond van ras, oortuigings (hetsy geestelik, polities) of enige ander ándersdenkendheid.

 

 

 

NORMAN BURGER, Predikant en Life Coach, Johannesburg, 57

Gasvryheid is vir my die ruimte wat ek skep
waar mense egtheid ervaar en met hartlikheid ontvang word
waar vreemdlinge tuis en welkom voel
waar mense ervaar dat jy opreg omgee, hulle onvoorwaardelik aanvaar en
waar mense veilig genoeg kan voel om hulleself te wees

 

 

HELEIN VAN DEN HEEVER, TESOL Onderwyser, Taipei, 45

Graz, Oostenryk 1998. Ons drink tee by ’n groepie Persiese vlugtelinge. Skielik daal daar ’n stilte en toe begin praat hulle in hulle eie taal. Een vrou haal ’n bondeltjie uit, maak die knoop met sorg los en beduie ons moet dit in ons tee sit: wit korreltjies, nes rys. Hul enigste wat hulle kon saambring – dit was hulle spesiale suiker.”

Hulle het alles gegee – dit het my laat behoort en my sprakeloos gelaat. 

 

DORIS VILJOEN, Bestuurskonsultant, Durbanville, volgende week 44 jaar oud

Ek het gedink oor wat gasvryheid nou eintlik is. Ek het gewonder of dit gaan oor die tafels vol heerlike kos of die mooi opgemaakte bed met die sjokoladetjie op die kussing. Toe ek mooi dink het ek besef dit gaan eintlik oor die kyk in die oë. Al die ander goed is net verpakkingsmateriaal.

 

IRMA VENTER, Boervrou, Port Alfred

Die ware hart van gasvryheid is om terwyl jou huis Kersfees vol is van mense vir wie jy lief is en om jou wil hê, mense in te neem wat as't ware nie so mooi in jou prentjie van perfekte Kersfeesgaste pas nie. Mense wat eintlik niks het om as 'geskenke'  intellektueel of emosioneel te bring nie. Mense met skurwe kante en skurwe hakke. Mense wat doodeenvoudig nodig het dat iemand net vir eens opreg bly is om hulle te sien – hulle te verwelkom, in te nooi en deel van 'n familie te maak (hoe sê die Engelse: warts and all!)