Facebook

    

 

Gee jou hart

Vir Lééf – met hart en siel, 2010

 

Drie vroue. ’n Skoonma en twee skoondogters. Al drie weduwee. Drie stukkende harte; vertroud met die pyn van verlies. Hulle staan huilend by mekaar; by ’n waterskeidingsplek in hulle lewens. Hulle moet besluit: Hoe gaan hulle vorentoe leef? Twee kies om om te draai na die veiligheid van die bekende – waar ’n mens jou so goed as moontlik kan pantser teen nóg moontlike seer. Die derde een kies om te waag ... en sy gee haar hart!

Rut. Seker die mooiste storie in die ganse Bybel van ’n vrou met ’n gutsy hart. “Waar u gaan, sal ek tekere gaan!”, het ’n kind haar een keer losweg aangehaal. Dit sing van oorgawe en waagmoed, van vreugde en moontlikhede ...

Gee jou hart. O genadetog! Dit is woorde wat die meeste mense ‘n bietjie bang maak – sedert hulle heel eerste seerkry al. Wonderbaarlik tog, is dit vir baie van ons nie’n omdraai- of ’n lamlê-bang nie. Eerder ’n opgewonde bang. Soos voor jy ’n reksprong waag of vir die eerste keer op ’n verhoog stap of kraam! Die benoudheid is ’n natuurlike deel van die proses. Maar dit weerhou jou nie van waag nie. >>

 

En wanneer jy waag ...? Dan stel jy jouself oop vir die mees sinvolle, vormende en bevredigende ervarings van jou lewe!

Mavis maak Ma se huis skoon. Elke tweede Saterdag. Party van die tussen-in dae werk sy langsaan by Buurman. Hy is nooit bedags daar nie. As Ma dan lekker kos kook, loop sy teen middagete langsaan toe met ’n koningsmaal vir Mavis op ’n skinkbord. Verjaar een van Mavis se kleintjies, bak Ma klompe kolwyntjies en versier dit met groot sorg tot dit soos laggende kindertjies lyk. Of af en toe doen Ma sommer op die ingewing iets anders om die lewe vir Mavis lekkerder of makliker te maak.

Mavis weer, gee met die groetslag vir Ma ‘n stywe druk en sê: “Hallo my Ouma!” Soms, as sy klaar gewerk is langsaan, moeg en met ‘n rug wat al lus is vir huiskry, kom sy gou eers by Ma klop. “Ek kom stryk gou bietjie Ouma se wasgoed”, sê sy dan, of “ek kom net gou Ouma se kombuisvloer was, want ek sien Ouma pyn vandag te kwaai.” Die hart-gee tussen hulle twee is spontaan en ongeforseerd; suiwer sielsverkwikking en inspirasie. Vir hulleself. En vir ons!

Ek kom nog uit die kinderkransera: Elke Dinsdagmiddag op harde kerksaalstoeltjies gesit en luister na ‘n tannie wat oor Jesus praat. ’n Tannie wat haar hart gee. Wat nie sommer net kerkwoorde praat omdat dit ‘n “goeie ding” is om te doen nie. ’n Tannie wat regtig daar wóú wees, regtig omgegee het, die kinders se name geken het, sowel as hulle soort menswees, hulle potensiaal. So ’n Tannie het, toe ek maar ongeveer agt jaar oud was, vir ons vertel hoe Jesus die brood en vissies meer gemaak het om die skares kos te gee. En daai dag – sal ek dit óóit vergeet? – het sy vir ons gesê: Daar is baie honger mense in die wêreld – honger vir kos, maar nog hongerder vir liefde. As jy jou hartjie vir Jesus gee, kan Hy jou ook meer maak, nes die brood en die vis, sodat jy mense se honger harte kan gaan vol maak met liefde ...

Haar woorde het my hart getref. Iets in my kindergemoed het daardie dag geweet: Dit is wáár. Ek het net toe nog geen benul gehad hoe verrykend en vormend, hoe vervullend dit kan wees om jou hart te gee nie. En hoe dit jou as mens en as gelowige kan laat groei nie! Dit sou ek eers later uitvind.

Toe Doesla voor my staan. En Painter. En China. Met hulle bendegesigte vol messteeklittekens. Met te veel leë vrae en wantroue in hulle oë. En ek,’n meisiekind vlak in my twintigs – is bewebang vir wat hulle aan my kan doen. Maar God se uitgestorte liefde in my hart por dringend: Jy kán hulle honger help stil!

Dit het my lewe onherroeplik verander.

Vir ’n paar jaar het ek saam met daai harde manne kitaar gespeel, videos gekyk, mure geverf, wors gebraai om hotdogs te maak en soms oor diep dinge gepraat. Hulle het deel geword van my lewe en ek van hulle s’n. En stomverwonderd het ek hulle harte sien verander: Hulle het sagter word. Heler. Genaakbaarder. Meer ontspanne en minder bevrees. Hulle het begin waag om weer te vertrou.

Ek was nog méér verwonderd oor wat in my eie hart gebeur het: Dit was asof die liefde wat ek gegee het gerondomtalie het en soos ’n boemerang na my toe teruggekom het – vol lewegewende energie. Ek het meer mens geword, mede-mens, mooier mens. Wat is daai ding wat in jou eie hart gebeur as jy begin uitreik na ander en kies om daadwerklik jou hart van omgee te wys? Jy begin lyk ’n bietjie soos Jesus!

’n Mens kan geld, tyd, goed, raad en bekwaamheid gee en relatief onaangeraak en onveranderd bly. Maar jy kan dit nie met jou hart doen nie. As jy jou hart gee, gee jy jou kern, jou essensie, jou beste en innigste. Soos God. En jy stel jouself beskikbaar vir verhouding. Vir brooswees. Vir voel.

En dít is presies die ding: As jy eers jou hart gegee het, is dit tickets. Dan is dit nie sommer net vir weer terugvat wanneer dit jou pas nie. Dan raak jy so betrokke, so ingetrek en verweef, dat omdraai nie meer ’n maklike opsie, of selfs ’n oorweging is nie. En dan word hartbreek natuurlik ’n moontlikheid. Ek onthou so goed hoe ’n wyse man in my jongjare vir my sê: “Child, dare to give your heart and people are bound to walk with their muddy boots all over it, but be assured that Jesus can wash away all the mud and the pain again.”

Ek glo Jesus doen nog meer as dit. Ek glo Hy laat ons deel in sy voortdurende skeppingswerk wanneer ons ons harte gee. Dis aangrypend om te sien. Dit dra dieselfde soort bekoring as ’n kunstenaar wat homself met oorgawe in musiek of dans of skilderwerk uitstort. Dis net: Die klawers, die verhoog, die doek, is die binneste van ’n medemens en die kunswerk is lank tevore reeds deur ’n Meesterhand begin. En nou kry jy die voorreg om ook ’n paar note saam te sing, die vryheid en vreugde van ’n paar passies mee te maak, ’n haal of twee met jou kleurvolle kwas ook te verf ...

Dit is die waag oor en oor werd! C. S. Lewis skryf in sy boek The Four Loves:

"To love at all is to be vulnerable. Love anything and your heart will be wrung and possibly broken. If you want to make sure of keeping it intact you must give it to no one, not even an animal. Wrap it carefully round with hobbies and little luxuries; avoid all entanglements. Lock it up safe in the casket or coffin of your selfishness. But in that casket, safe, dark, motionless, airless, it will change. It will not be broken; it will become unbreakable, impenetrable, irredeemable."

En dit sal God se hart breek. Waag liewer. Lééf! Gee jou hart!