Facebook

    

 

Bewapen jouself teen die winter

Vir LIG 2011

Deur Annalise Wiid

 

Eintlik moet jy in die herfs al begin om jouself te bewapen teen die winter; in die herfs wanneer die wingerd- en esdoornblare soos rooi juwele hang en die populiere vlam met gloeigeel vure. Dan moet jy, soos Boerneef aanraai, rem aanslaan “en kyk en kyk, lank en eerbiedig soos ‘n mens na so ‘n herfs moet kyk” dat dit kan “inbrand in jou vir latenstyd, die warm geel en rooi …”; dat jy jouself voortyding en beskermend in die koesterende gloed kan toespin, vóór die dae van kaal takke en nat, swart silhoeët stamme kom.

Vuur. Dit is al wat help as jy jou teen die winter wil bewapen. Die vuur van herfskleure en somerse herinnerings. Vuur in jou huis en vuur in jou hart; vuur in jou kop en in jou lyf en soveel as moontlik ook in die mense rondom jou. As die koue bitsig raak; as die ryp soggens al hoe later kraak en snags al hoe vroeër kom; as die aarde, soos N. P. van Wyk Louw dig, nagtelang lê en week in die donker stil genade van die reën, dan moet jy alle soorte vure stook om oorlewings ontwille.

Is daar iets lekkerder as ‘n kaggel se knetter wat beide huis en gemoed met snoesigheid vul wanneer alles buite kil en ongenaakbaar is? Min dinge is so lekker soos die gesellige sirkelsit om ‘n oop herd en die meesleurende towerspel van ‘n vuur se kleurvolle dans. Dis mos asof die hitte van ‘n kaggel gesprekke en gemoedelikheid spontaan laat vlamvat en of dit ons ook in gemakliker stiltes langs mekaar laat opkrul. Verwarmers en elektriese namaakvuurtjies doen dit net nie op dieselfde manier nie. Maar as jy dan nou keuseloos op moderne kunsmatige vure aangewese is, vergeet nie die kleiner vreugdes en voorregte van ‘n warm bad, ‘n elektriese kombers, flennie pajamas of ‘n dons duvet nie.

 

Vergeet ook nie die heerlike binnevuur wat ‘n bak en brouery kan aansteek nie. Winteretes het mos ‘n eie karakter. Niemand sien juis in die koue kans vir te veel slaaie en krakerige lae-kalorie kos nie. Mens soek stomende potte sop met sagte uitgeswelde kluitjies; geurige bredies wat ure lank staan en prut het tot al die geure daarin smaaklik een word; pastei wat uit die oond kom met ‘n kors die kleur van ryp koringlande; melksnysels en Milo en langsous gebakte poedings met gemmer en kaneel en appelkooskonfyt, wat soos pure soet somer proe, mildelik daarin geroer.

Waag ‘n slag met ‘n paar kos eksperimente. Hiervoor het rooi rissies groot potensiaal! ‘n Vuurtjie op die tong en in die maag kan wondere doen om die winter te troef. Ek kry by ‘n vreeslose kok, nee haar naam is nie Hilda nie, hierdie wenk: trek vier medium grootte rissies vir ‘n paar dae op ‘n bottel sjerrie. Dit word dan in sop of bredies gebruik vir ekstra skop. ‘n Skeut daarvan klink vir my of dit dieselfde effek as goedgestookte mampoer kan hê! As skop jou ding is, maar jy is nie lus vir oormatige ure se kombuiswerk nie, kry by die supermark van daai klaarvoorberei- en verpakte kerrie pulp wat as matig tot sterk tot vuurvreter aandui word met die hoeveelheid rooi chillietjies in die linker onderste hoek van die pakkie. Of probeer ‘n klein knippie rooipeper by jou glas warm sjokolade roer, soos die Suid-Amerikaners doen.

Dalk voel jy veiliger met die warmte van kerse en musiek. Hoe meer kerse, hoe beter. Outydse olielampies werk ook wonderlik! Steek hulle oral aan. Vensterbank en badrand. Kamer en gang. Kombuistafel en bedkassie. Behalwe dat hulle ‘n hittetjie van hulle eie uitstraal, dra hulle glinster die sterre se betowering ‘n vertrek binne en dít verwarm die koudste nag.

Wanneer die bleek winterdae jou aaneen binnetoe dwing, is dit ook ‘n goeie geleentheid om ‘n slag deur jou musiekversameling te gaan en weer na daai ou gunstelinge te luister waarvoor jy so lanklaas tyd gehad het. Of dalk kan jy hierdie winter nuwe musiek ontdek. As jy gelukkig genoeg is om een naby jou te hê, gaan geniet ‘n paar opwindende ure in een van daai musiekwinkels wat ‘n coffee shop ook het. Andersins, net daar voor die kaggel, toegespin in die donskombers, of omring deur al jou kerse kan jy met YouTube se kuberhulp ‘n verstommende verskeidenheid nuwe musieke ontdek en ondersoek. En selfs aanstuur na jou bevrore vriende, wat nes jy smag na ‘n verwarminkie.

Dieselfde met stories. Gryp die kans wat ‘n lang wintersaand jou bied en kyk daai DVD waaroor jy lankal wonder; lees daai boek wat jy laasjaar al gekoop het en nou nog nie by uitgekom het nie; lees Lig ‘n slag van hoek tot kant deur in plaas van om oorhaastig deur jou gunsteling rubriek te blits en dan deur die res te woerts voor jy na jou volgende taak toe jaag; of verskuif jou grense en verryk jou gees deur elke dag ‘n gedig te lees. Jy hoef nie eens biblioteek toe te gaan as die weer te guur is nie, Google sommer net “Afrikaanse gedigte” en volg waar die verrassings jou lei. Veral dié oor die liefde mag dalk selfs jou stoutste verwagtings oortref en sluimerende hartvure ook sommer weer ‘n bietjie aanblaas ten goede.

Partykeer is die enigste pantser wat werk teen die winter se onvermydelike terneergedruktheid, om iets laf en buitengewoon te doen. Wanneer laas het jy in die ysige koue ‘n draairoomys geëet? Bederf jouself. Raak roekeloos en gaan vir die grootste een met die flake en die frummels. Of die een wat met ‘n kraaklagie karamel uit daai sagte bruin bad kom. Lekkerste van alles is dat jy nie in ‘n ellelange ry sal hoef te staan om te bestel of te betaal nie! Beplan ‘n uitspattige somervakansie – sommer na Italië of Peru of ‘n onbekende eiland iewers! Selfs al het jy nie die geld daarvoor nie. Droom jouself daarmee uit jou winter bedremmeldgeit uit tot binne in ‘n beter bui! Wintertyd is speeltyd. Benut dit! In my kinderdae was dit legkaarte, slangetjies en leertjies, Monopoly. Later Trivial Pursuit of Pictionary. Saamspeel goed. Uitrafel en paplag speletjies – wat jy met iemand, sáám met ‘n ander mens of mense speel, nie afgesluit op jou koue ek-eilandjie met ‘n rekenaar of ‘n selfoon nie.

Doen iets parmantig. Skaf vir jou ‘n hoedjie aan. Nie ‘n beanie nie – dit laat mens soos ‘n onrehabiliteerbare krimineel lyk. Nee, kry een van die stuitige stylvolle goedjies wat nou hoog mode is. Of skryf jouself in vir dansklasse. Leer behoorlik en uitbundig dans. Audrey Blignaut het mos gesê:  Ons is Dawidskinders...ons huppel graag. Of, gryp reënjas en sambreel, en gaan stap juis wanneer dit sous. Stap tot jou wange, neuspunt en ore gloei. Al kom jy ook deurweek terug huis toe. Blaas net dadelik jou hare droog en sluk ‘n paar ekstra vitamien C’s. Verf jou toonnaels, of jou maat of jou Ma s’n, bloedsomerrooi. Al word hulle daarna weer weggesteek in sokkies en stewels of skaapvelpantoffels. Hulle sal steeds, astrant, die winterkoue koggel. Toe ek ‘n kind was, was die winters beslis langer as nou. Dit het vir my soos eeue, soos die ganse ystydperk, gevoel voor die somer weer kom. Dan onthou ek, het ek soms, bibberend, met my kaal voetjies op die koue badkamervloer, sonbrandroom (daai dae was dit Coppertone) aan my hoendervleis beentjies gesmeer om net weer die reuk van warm son en strand te kry.

Reuke. Die winter het sy eie. Pannekoek. En nat pad. Klam wasgoed. Of konkavuur rook wat sliert van doer anderkant af. Min dinge verwarm jou eie binnekant so effektief as wanneer jy vir iemand anders ‘n vuurtjie aanpak teen die koue. Koop vir die motorwag ‘n koppie wegneemkoffie. Of vir die bedelkind ‘n warm hamburger. Gee van jou komberse, wol truie, oorvloed kos; gee jou menswees en tyd. Luister. Leer ken ander se winter ervarings. Vra, soos Kabous Verwoed: “Kom stamp jou voete aan my kant, kom maak jou hande amper brandwarm om my koue straat, konkavuur … vertel my van die woede van jou winter; van sakke kole op 'n twaalfrand special en hoe ver die pad na hitte is”. Vra. Sodat jy kan weet, kan begin om ten minste ‘n bietjie te verstaan. Jou meelewing sal wedersyds, vir jou en die verteller, ‘n binnevuur kan aansteek.

En so ‘n binnevuur, ag so ‘n binnevuur, dit is wat ons almal broodnodig het wanneer die windjie koud is en skraal. Dit kan ons, soos Shakespeare se Richard the Third laat sê: “Now is the winter of our discontent made glorious summer …”

Voor die lente met sy onstuitbare groeikrag kom, om die winter finaal eenkant toe te stoot sodat die somer ongehinderd kan uitswel en ryp word, benodig aarde en mens die seisoen van stilte; ‘n seisoen van stroop en snoei en sluimer; van wortels dieper in die aarde se geheime warmte indryf; ‘n seisoen waarin ons weer groeigereed word …

Winter is die tyd wanneer “alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange

tot ons ’n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?

N.P. van Wyk Louw – Winter