Facebook

    

 

Dit Sê Sovéél!

Vir KERKBODE 2011

Deur Annalise Wiid

 

Ek was daar, vroeër vanjaar, by Goudini toe die Wes- en Suidkaap sinode van die NG Kerk indringend oor Belhar gepraat het. ‘n Gistergesprek, wat vandag nog in my weefsels vassit. Die intensiteit en impak daarvan het my oorspoel met die onkeerbaarheid van vloedwater; en my hart nie ongeskonde gelaat nie. Daar was vir- en teen argumente. Vrae. Vrese. Voorbehoude. Ook dapperte, oortuiging, ongemak. Nie in balans nie. Hoop en die uitstrek na iets goed het terughoudendheid en die somber verlede oortref.

Ek het gaan waarneem. Hart en oë oop, gefokus. Bykans 800 van my mense. In beroering. Een-een het die waagmoediges opgestaan. Met baie werklike emosie en diep opregtheid hulle pleidooie kom lewer. Vir en teen. Vir en teen. En mettertyd al hoe meer vir, vir, vir … Vir wat reg is in God se oë. Vir medemenslikheid. Vir bewus leef van ander se pyn – ons eie ook. En vir bereid wees om dit op te vang, te verreken; mekaar dit te help dra. Vir losmaak van ou kniehalters en remskoene. Vir instap in die groot Godsgenade wat ons almal ooparms inwag.

 

Teensprake was daar ook. Te verstane. Hoofsaaklik weens die bitter nalatenskap van mag en onmag; skuld en verlies; politiekery en ontmensing op vele vlakke. Geruime tyd al het Belhar in my kop begin weggroei van sy ontstaantyd, sy pynlike geboorte en politieke bagasie. Hy’t groter geword as sy konteks; meer tydloos, tyd-los. ‘n Belydenis wat oor dekades en selfs oor eeue, oor grense en kontinente kan bydra tot ‘n sinvolle geloofsbelewenis vir baie mense; wat nie net vir die gereformeerde kerke in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd vir gelowiges meer duidelikheid kan bring – oor onsself en ons diepgaande behoefte aan geregtigheid, oor die wondbaarheid en die versoenbaarheid van mense, maar hoofsaaklik oor God. ‘n Belydenis wat Sy wese vir brose mense verwoord.

Dit het ek by Goudini gesien: brose mense. Wat bewend, maar dapper opstaan: hulle sê sê; hulle oortuigings uitstip; hulle hart op die tafel en op die spel plaas. En sodoende hulleself oopstel vir moontlikhede. Vir groei. Vir seerkry en vir heelword. Hopelik ook vir heelmaak ...

Die Goudini-gesprek is gebore in stilte; het gevloei vanuit ‘n doelbewuste, doelgerigte fokus op God se teenwoordigheid, Sy leiding, Sy wil … Die trant daarvan was eerlik, bedagsaam. Woorde is omsigtig gebruik. Genuanseerd. Daar was respek vir mekaar se sienings. Daar is met sorg na mekaar geluister. Dit was mooi. Al het mense van mekaar verskil. Dit was goed om die ervaring te hê dat ons mekaar dit gun om uit ons harte te praat. Uiteindelik het die vergadering gestem. Meer as 80% ten gunste. Party het agterna gesê: “Dis bog!” Ander: “Die besluit kom te laat; dis too little too late.”

Is dit óóit te min of te laat of onbelangrik as mense groei tot groter genaakbaarheid, tot dieper insig in hulle eie en hul medemens se nood, in God se karakter? Die gesprek het voortgevloei uit ons saamlees van Psalm 23: “U lei my in die spore van geregtigheid.” Godspore wat Christus ooptrap – vir ons – om in te volg …

Tydens die gesprek sit Neil oorkant my met sy babadogtertjie op sy skoot. Sy lê rustig met haar wangetjie teen sy gesig. Ek sien God so sit met ons, sy kinders. Teer. Koesterend. Waarderend. Beskermend. Sterk.

Vanoggend kyk ek na Neels se foto van ‘n reënboog met sonsopkoms oor die Slanghoekvallei, oor Goudini, oor die sinodemense. Daar’s lig en skaduwee in die prentjie. Wolke en ooptes. Sag en hard. Nag en dag nog sy aan sy. Maar die reënboog … die reënboog, o dit sê sovéél!