Facebook

    

 

Wanneer Jou Lewe In ‘n Somerseisoen Is

 

Somer is ruising van lower, somer is wind, somer is ruising van lower in die wind en die wind is mooi en groot en grasieus en die wind beweeg soos ‘n vrou. So dig Sheila Cussons. En is somer nie ‘n gedig nie! ‘n Betowerende spel van lig in lower, van smake en sensasies, van lang dae en loom nagte. Sensueel. Wild. Warm. En heeltemal onontbeerlik vir volledig menswees!

Somer is ‘n uitgeswelde, ryp, oophand seisoen. So weldadig. Dae soos heuning, het Johannes Kerkorrel se streelstem gesing. Dae wanneer alles wat vroeër nog net knop en bloeisel-belofte was, uiteindelik, onkeerbaar tot wasdom blom. Somer is ‘n tyd van genoegdoening en waardering. ‘n Tyd om jou te verlustig in volheid. ‘n Tyd van insamel en uitdeel. En genot. Want somer bring die ligtheid van die langvakansie. En vir ons in die suidelike halfrond, ook Kersfees en Nuwe jaar. Somer is saamwees. Saam fees! Somer, getroue gulhartige profeet, dra jaar na jaar weer die eggo’s van Eden op die aandwind vir ons aan.

Ek wil vir jou somer wees en stilte gee …, sing Christa Steyn se Geel Madeliefies-liedjie, ek wil vir jou die son gaan haal …

Somer is oestyd. Tyd om die opbrengs in te dra spens toe. Somer is stropers wat sing deur mielielande. Koring wat ton vir goue ton tuimel voor ‘n massiewe masjiensens. Boorde vol bome met takke wat dankbaar buig onder die kwistige vrag van die vrug. Somer is die tyd vir mildelik insamel. Tyd ook vir ruimhartig en onvoorwaardelik uitdeel, want ons oorvloed is groot! En tyd vir opgaar – herinneringe, ervarings, ewige oomblikke … tyd vir voorsiening maak en wegbêre, sodat ons vorentoe darem nog ‘n bietjie ingemaakte somertroos sal proe wanneer die onvermydelike winterkoue weer kom.

Somer het ook sy sleg kant. Dit is die tyd van lastige vlieë en miere en allerhande peste en plae soos skurwe blaar aan die suurlemoenboom of roes aan die rose. Somer is taai en sweterig. Mense se irritasie vlakke styg saam met die temperatuur. Dit bring onvoorspelbare uitbarstings mee – so skielik en geniepsig soos donderslae. Somer is lugspieëlings wat waterkoel, maar leeg, lê en lok op die langpad. Soms koggel die somer jou met suiwer sinsbedrog. Jy sien bergtoppe in die verte, maar die grootste deel van die berg is "weg" – getoor deur die misleidende kaatsings van loodregte lig. Somer is sonbrand. Dis seer. Soms is die somerskroei te veel om te verduur.

Somer is ook speels en romanties. ‘n Karnaval van kleur. Wanneer die son die aarde soen met papawers en ranonkels. Met kersies, pruime, appelkose en nektariens. Druiwe wat groen en pers tros. Somer soebat met haar pruilmond dat jy jou tande sal wegsink in sappige soet aarbeie en druppelblink waatlemoen – rooi en aanloklik, parmantig soos die seisoen self. Somer nooi jou vir ‘n piekniek op die strand, in die skadu’s van die woud of langs die swembad. Daar smul jy aan koel, kraakvars slaaie met tuinkruie en ryp tamaties. Roomys en spanspek. En jy skink iets wat vonkel in lang glase vol rinkel-ys.

Somer is buite-wees tyd. Kinders, jillend, op die strand en in die water. Sorgelose ure. Lang slenterstappe in die skemer se soeltes. Opelug konserte onder gesellige sterre. Somer is geur. Laventel en oop rose. Mangoes. Vye. Varsgesnyde gras. Sonbrandroom. Jy ruik die reën wat aankom in skitterwit wolk koetse; gelaai met groot druppels koelte – lafenis vir laatmiddag se warm grond.

Somer is groei. Jong bokkies wat uitbundig spring; klein voëltjies wat leer vlieg; kinders wat aanskuif na ‘n volgende skooljaar toe. Somer – immer gejaag deur die lente en gelok deur die herfs – bring ‘n intenser bewustheid van tyd wat nooit stilstaan nie; van onstuitbare prosesse wat voortstu en ontvou; veral van die onafwendbare ryp word van alle dinge. Ook die ryp word in jouself.

Want somer is nie net ‘n natuur seisoen nie. Dit is ook ‘n seisoen van menswees. Sommige mense dink daaraan as eenmalig – ‘n spesifieke era in hulle lewens. Hulle assosieer dit met hulle besigste jare – die óórvol tyd tussen die lente voor die kinders se kom en die herfs ná die kinders se gaan. Die tyd in jou lewe wanneer jy veronderstel is om ‘n boom van kennis, ervaring en wysheid te wees. Die tyd wanneer jy akrobaties, soos ‘n sirkus arties, ‘n verskeidenheid balle eiehandig in die lug moet hou: jy moet huis en haard voortreflik bestuur; die lugkastele oor jou huwelik in werklikhede omskep; vooruitgaan in jou werk; floreer in jou verhoudings; ‘n ferm oog hou op jou immer uitdyende figuur; ‘n hond, ‘n kanarie en dalk nog ‘n laatlam ook versorg en boonop ook nog in beheer bly van skoppelmaaiende hormone – jou tiener s’n, sowel as jou eie! Geen wonder jy voel meeste dae asof jy enige oomblik gaan ineenstort van pure hitte uitputting nie! Hoe op dees aarde bly enige vrou koel as die kwik so onhoudbaar hoog styg?

Dalk is dit te veel van ‘n vereenvoudiging om ons lewensseisoene so beperkend te kategoriseer. Asof ‘n mens se jong jare outomaties lentetyd is; jou vrugbare jare vanselfsprekend somer. Asof die naderende ouderdom en aftrede noodwendig ‘n herfs meebring en jou laaste jare, bejammerenswaardig, ‘n blaarlose winter word. Somers kom en somers gaan soos ons rondomtalie om die son, in onsself en om mekaar. Die lewe se seisoene is, soos die natuur s’n, herhalend, eerder as eenmalig. En dit het veel meer te make met ‘n kenmerkende kwaliteit en inhoud as met ‘n afgebakende tyd of lewensjare.

Jy kan tog in jou jeug reeds die soet van somer proe in die onkeerbare óópbloei van jou persoonlikheid; in die eerste pluk van jou talente en gawes; in die oes en uitdeel van genade. Net soos jy in jou ouderdom dit steeds sal proe in elke produktiewe dag; in elke ryp vriendskap. Met elke projek wat suksesvol deurgevoer word, met elke goeie daad of gesindheid waarvan iemand die helende vrugte eet, in elke oomblik van onbevange oorgawe of genot of diep dankbaarheid, stap somer laggend oor die drumpel. Somer hang tog baie meer af van oorvloed en opbrengs as van ouderdom, of hoe? Seker daarom dat dié wat nie graag belê in ploeg en plant nie, die sin daarvan lewenslank kan mis. Want somer is ‘n ingesteldheid. Dit is die uitleef van ‘n onstuitbare lewensdoel. Dit is die tot-rus-kom van ‘n versadigde, tevrede siel.

Albert Camus, die bekende Franse skrywer-filosoof met ‘n veelbewoë lewe, het dit so verwoord: “In die hart van die winter het ek uiteindelik ontdek dat daar binne-in my ‘n onoorwinlike somer is.” Aangrypend! Veral wanneer ‘n mens daaraan dink dat somer die tyd is wanneer die manjifieke middernagson sy verskyning maak: ‘n snak-asem skouspel van ‘n hemel vol kleur – met die son, dag en nag – selfs tot ses maande lank – ononderbroke sigbaar. Daar, juis dáár, in die toegesneeude, bibberkoue, afgeleë uiterstes van die aarde. ‘n Goddelike, onbevange, óóp gedig!

 

Jeanne Cillié

Berader/ life coach.

64 jaar en 11 maande

Somer is vir my kleintyd se vreugde van ‘n werpsel klein katjies, vissies vang in die leivoor, mengbakke uitlek as Ma bak vir die kerkbasaar … Onkoopbaar!

Lateraan die ervaring van wonderlike vriendskappe op skool, universiteit en verder. Van ‘n hoërskoolkys wat ‘n troukys word; van ure se laatnag gesels in plaas van swot; van diep dinge praat as jy saam met vriende vakansie hou.

Die vreugde van kinders en kleinkinders; van ‘n (skoon)ma wat op 90 steeds oor jou welsyn bekommer … Vreugde saam met ‘n vriendin wat hoor sy is “skoon”!!

En ‘n droom dat jy dalk die winterseisoen kan “skip”, maar met die seker wete dat die Here jou ook daardeur sal dra tot die somer weer kom!

 

Mercia Eksteen

ATKV-Projekorganiseerder

36 jaar oud

 

Na ‘n lang winter in my lewe en ‘n lang trek deur die woestyn het die mooiste somerseisoen in my lewe aangebreek.

Vir my is hierdie ‘n seisoen van geur, kleur en warm son wat jy op jou lyf voel.

‘n Tyd van kuier saam met jou familie, ‘n tyd van stilword, terugkyk en onthou en ook vorentoe kyk en droom. Somer bring ‘n groot stuk waardering saam met dit, waardering vir die proses van groei en ontwikkeling om hierdie seisoen te kon begroet.

Ook bring dit opwinding oor die verrassings en geleenthede wat die lewe inhou.

My wens is dat God my sal lei en help om altyd in die Somerseisoen van my lewe met ‘n bewustheid te leef van die HIER en NOU.

 

Annemarie Joubert

Rekenaarprogrammeerder

49 jaar oud

 

Ag toggie, ek’s BESIG!! Ek het tans meer werk as wat ek kan hanteer. Alles moes gister al klaar gewees het ... Somerseisoen???

Maar wag ... eintlik ... Ek is ‘n Christen, het ‘n werk (wat maak dat ek vir myself kan sorg), het woonplek, ‘n warm bed en ‘n arsenaal van geliefde vriende en familie. Wanneer moeilikheid my pad kruis word ek warm toegevou deur omgeemense. As dit goed gaan kuier ons saam en vier ons fees.

Jip, my lewe is nou in ’n Somerseisoen!!

 

Caroline Kotzé

Tuisteskepper

44 jaar oud

Wanneer ek dink aan somer in my lewe, sien ek die vroeë oggend goud wat stralend dans en ‘n kaleidoskoop van kleure vorm op waterdruppeltjie-plante. Ek voel hoe die strale dan liggies aan my vel kom raak en ‘n tinteling deur my lyf maak, al vinniger en vinniger, totdat my voete sonder keuse oorgaan in dans!

‘n Dans wat my wegvoer tussen dennegeure waar vlinders die ritme saam met my volg. Vry en oordadig in hul speelsheid!

‘n Speelsheid wat my bring tot by rivierstrome wat bruisend, lewegewend voortborrel in hul kragtige vloei. ‘n Bruising wat in my are kom hardloop en my laat sing van genade en liefde en versorging. ‘n Bruising wat ek wéét van my hemelse Vader af kom, Hy wat my elke dag vul met krag en hoop en vorentoe kyk.

En my dans, word ‘n LOFDANS!

 

Marna Keller-Vermeulen

Ma van ‘n peuter en weer swanger, ook Gastehuisbestuurder

31 jaar oud

My kindertyd-somers was lang, uitbundige Desembervakansies. Ek sien Santos se lekker wit strand volgepak met die kleurrykste sambrele! Ek hoor die 'trieng-trieng' klokkie van die roomyskarretjie wat ek bestorm met my 50c wat Mamma vanoggend in my hand gestop het. Ek ruik sonbrandolie en oral lag en gil mense wat baljaar in die branders! Ek sien vrolike kindergesiggies wat sandkastele bou. Soveel blydskap ... Soveel lekkerte ...

Die grootmenswêreld en ander seerkry-dinge steel soms ‘n bietjie van hierdie einste vreugde en lekkerte. Dan verdwyn elke groen kolletjie en maak plek vir 'n vaal, uitgedroogde landskap, waar stowwerige windstorms soms alle energie uit my waai.

Maar dan kom daar so ’n lekker reënbui ná die wind – wonderlik, soos ons nuwe babatjie – en dit bring die heerlike vooruitsig dat ek binnekort weer die branders sal trotseer en sal sandkastele bou.