Facebook

    

 

Paasfees

PAASFEES

Deur Ilze Salzwedel, 2008 vir Lééf

 

Annalise Wiid sal die Paasfees van 2007 nooit vergeet nie. “Ek was saam met ‘n toergroep in Israel om daar te gaan optree. Dit was my heel eerste keer in Israel.”

In Jerusalem het die streng Paasfeesreëls, veral rondom kos, duidelik opgeval. “Suiwel en vleis is nie saam bedien nie, en ons het matzohs (daai plat ongesuurde brood wat lyk soos sinkplaat) vir ontbyt gekry. Nou moet jy weet hoe het ons Suid-Afrikaners, wat so lief is vir brood, daarmee gesukkel.”

Daarom sal sy die besoek aan Bethlehem nooit vergeet nie. Iewers deur die loop van die Paasnaweek – na ‘n baie lang aanloop van ononderbroke matzhos – het hulle Bethlehem besoek. “Bethlehem is mos onder Palestynse beheer, die Joodse reëls van ongesuurde brood geld nie daar nie, en daardie dag het die hele plek na brood geruik.”

 

 

Saam met dié varsbroodreuk, vertel Annalise, het daar vir haar ‘n nuwe lig opgegaan. “Toe onthou ek dat Bethlehem ‘plek van brood’ beteken. En dat Jesus Christus, wat daar gebore is, die Brood van die Lewe is wat boonop kort voor sy kruisiging die Nagmaal ingestel en die brood vir Sy dissipels gebreek het. Met die opdrag: neem, eet. Maar my eintlike verwondering was dat hy SELF soos brood gebreek is – dis nie net ‘n visuele simbool in ‘n sakrament nie. Sy liggaam is uitmekaargeskeur. Dis liefde se vreemde, ontstellende, Godswonderlike gesig!”

 

‘n Week later, terug in Suid-Afrika, moes sy ‘n vertoning by die KKNK doen: “Lig uit Lig”. Dit vertel die verhaal van Johannes wat uit Patmos skryf aan Maria, die moeder van Jesus, en in die verhaal voltooi ek die sirkel wat begin het by Jesus se geboorte en eindig by Sy opstanding – lewe tot Lewe!.

Na daardie dag in Bethlehem, en al haar ervaringe in Jerusalem en die res van Israel, vertel Annalise, het sy nuwe inspirasie gehad. “Dit was asof die Bethlehem brood-ervaring ook nuwe lewe/energie in my losgelaat het.”

Haar Paasfees in Duitsland ‘n paar jaar gelede sal sy ook nooit vergeet nie. “By ons val Paastyd mos aan die begin van die herfs, en dis of alles so half begin doodgaan. In Europa is dit presies die teenoorgestelde: dis lente, en alles kry nuwe lewe. Die natuur werk mooi saam om aan Paastyd ‘n uitbundigheid te verleen, en dit ‘n ware viering van die Lewe te maak. Want vir ons as Christene het die gebreekte brood van Jesus se kruisdood tog die Lewe gebring.” Dit is tog die essensie van Sy geweldige vergifnis: dit is bedoel om uit te loop op léwe!