Facebook

    

 

Op vlerke van geloof

Op vlerke van geloof
Deur Deonette de Kock, Finesse Augustus 2005  

Annalise Wiid, bekend as gospelsangeres, het ‘n passie vir die lewe. Haar positiewe lewensuitkyk en verwondering oor God blyk duidelik uit haar vertellings oor die soet en suur van die lewe wat haar net nog nader aan die Here gebring het.

Die koue hang soos ‘n kleed oor die Kaap met die reën wat in ‘n fyn gordyn neerstort. In die voorportaal van die Stellenberg Kerk in Bellville waar sy optree, ontmoet ek die vrou met die ryk, goue stem, Annalise Wiid. Bekende gospelsangeres, met warm bruin oë en ‘n persoonlikheid wat die winterkoue uitdryf.

Annalise, wat op Somerset-Wes woon, is ‘n vrou met vele talente. Nie net het sy al sewe CD’s uitgereik nie – sy doen bediening met haar sang - maar sy tree ook op by konserte, is spreker by kampe en het al twee boeke (sketse) gepubliseer, terwyl die derde boek in wording is.

 

HOE MY LEWE VERANDER HET

Met Annalise se studiejare as grafiese kunsstudent het haar lewe verander. Soos sy sê: “’n Mens word as kunsstudent op elke gebied en op elke vlak uitgedaag. Ek het sonder dat ek dit besef het, wegbeweeg van die Here. Al hoe minder kerk toe gegaan, al hoe minder Bybel gelees en gebid. Meer krities geraak en was skerp met my aanmerkings en oordeel oor mense.

“Nadat ek as grafiese kunstenaar begin werk het, het ‘n kliënt by my ingestap. ‘n Man van in sy laat twintigerjare. Nadat hy tien minute by my was, sê ek toe aan die ander in die kantoor dat daar iets omtrent hierdie man was wat anders was. Ek was nie verlief op hom, soos hulle dadelik gedink het nie, maar iets omtrent hom het my gefassineer. Omdat dit ‘n moeilike projek was en hy baie na my moes terugkom, het ek vriende geraak met hom. ‘n Uitsonderlike man. En een aand het ek hom daarmee gekonfronteer en gevra wat dit omtrent hom was wat so anders was as ander mense.

“Waarop hy toe antwoord: ‘Annalise, die Gees van God woon in my. En as dit my nie anders maak nie, dan is dit nie die moeite werd om ‘n Christen te wees nie.’ As daar nou een draaipunt in my lewe was betreffende my geloof, dan was dit na daardie gesprek. Ek het daardie aand vir die Here gese: ‘Here, ek glo met my hele hart in U wonderlikheid. Maar as dit nie in my lewe wys nie, mis ek ‘n groot deel van die wonder van christen-wees en is dit nie werd om ‘n Christen te wees nie.’ Wat help dit ek sê ek is ‘n Christen en glo in Hom, maar ek het hierdie ordinêre, impaklose lewe.

“Ek het toe vir die Here gevra om my anders te maak. En sê toe aan Hom: ‘Ek gee nou U gees vrye teuels in my lewe en weet nie wat dit behels nie. Maar kom maak van my ‘n soort mens wat iets van U realiteit vir ander mense weerspieël’.

Vir Annalise het hierdie ervaring haar lewe verander. Sy sê: “Stelselmatig het ek ‘n groter geïnteresseerdheid in die Bybel ontwikkel en met baie meer effek die Bybel gelees. My betrokkenheid met mense het totaal en al verander. Waar ek onbetrokke geleef het, net kritiek uitgespreek het en niks positief gedoen het om enige situasie te verander nie, het ek hierna geleidelik betrokke geraak by ‘n projek waar daar met straatbendes gewerk word. Dit was lekker. Lateraan het ek toe my werk as grafiese kunstenaar bedank en voltyds by die bendes gaan werk. My lewe het skielik soveel meer betekenis verkry.”

WONDERWERK IN GOD

Annalise het egter nie geweet hoe om bendelede wat tot bekering gekom het, verder geestelik te begelei nie. Dis toe dat sy besluit het om vir twee maande na ‘n Bybelskool in Engeland te gaan en meer te leer.

Sy vertel: “Ek was arm en het my werk en woonstel opgegee en my laaste sent gebruik vir my verblyf in die noorde van Engeland. Die Bybelskool was in ‘n pragtige ou herehuis, ‘n klipkasteel tussen groen heuwels, met tweehonderd studente uit twintig verskillende lande en ek was die enigste Suid-Afrikaner onder hulle.

“Ek was van kleintyd lief vir die Here maar nie gewoond dat die Here direk met my kan praat nie. Na vier weke in Engeland het ek die vaste wete gekry dat die Here wil hê dat ek vir die res van die jaar by die Bybelskool moes aanbly. Maar ek was platsak. Nogtans het ek my vliegkaartjie terug gekanselleer en my ouers laat weet van my besluit. Ek het geen idee gehad hoe ek die Bybelskool gaan betaal nie. Maar nadat ek een oggend in Jakobus gelees het dat geloof sonder dade dood is, was ek roekeloos gehoorsaam en gaan sien toe die Registrateur van die Bybelskool.”

Annalise vertel hoe rustig hy na haar storie geluister het en dat sy vir die jaar wil aanbly sonder geld of heenkome. En bekommerd is daaroor. Toe kom hy met die verstommende nuus. ‘n Anonieme persoon, wat anoniem wil bly, het die vorige dag gebel en gesê as die meisie van Suid-Afrika ooit na hom kom en sê dat God wil hê dat sy die res van die kursus doen, dan sal hy vir alles betaal.

Met oë wat blink van onthou, vertel Annalise: “Ek was verstom. Hier waag ek iets groots en die Here laat my nie ‘n sekond langer bekommer as wat nodig was nie. ‘n Wonderwerk wat my hele lewe verander het. Ek was totaal oorstelp.”

Buiten haar studies, het Annalise ook vir drie maande by die Bybelskool gewerk en is op ‘n uitreikspan na Skotland, Ierland en Wallis gestuur. Intussen het sy vir die lekker in ‘n trio begin sing. Daar het haar sangbediening sy grondslag gekry. Soos Annalise sê: “Ek was bang, beskimmeld en ‘n skaam mens. Maar na my jaar in Engeland het ek die nodige lewensvaardighede gehad en geleer om met mense om te gaan. Die Here het daardie jaar in Engeland my lewe op dreef gekry deur ‘n wonderwerk. Dis was ‘n vormende jaar en die vonk vir my sangloopbaan. God het my gehelp om my geloof, deur middel van my liedjies met mense te deel.”  

Annalise sien haar lewenspad as ‘n interessante reis met verrassende gebeure. Haar positiewe geloofslewe kom na vore, toe sy sê: “Die Here hou my vas, al kon ek Hom met tye nie vashou nie. Soos toe ek saam met my suster se tienjarige seuntjie in ‘n motorongeluk was, hy sterf en ek vir maande lank te beseer was om my kitaar op te tel. Vandag weet ek met oortuiging dit maak nie saak wat vorentoe op die pad vir my wag nie, God is altyd daar. Ek loop die pad soos dit my lei en weet nie wat volgende wag nie. Maar ek is baie opgewonde daaroor.”