Facebook

    

 

Annalise Wiid wil mense nader aan die Here bring

Annalise Wiid wil mense nader aan die Here bring

Karin Botha, Helderstem 2006

Die eerste wat mens van Annalise Wiid opval, selfs oor die telefoon, is haar lewensvreugde- en lus.

Sy vertel opgewonde oor haar “holderste-bolder, halsoorkop, rondrits-lewe” wat haar werk as sanger, liedjieskrywer en geleentheidspreker meebring.

Wiid sing en gesels regoor die land en bring op dié manier mense nader aan die Kruis.

“Musiek is maar één van my liefdes en ook maar net ’n deel van my bediening. Lering is ’n ewe groot liefde om die opwindende rykdom van die Bybel vir mense oop te breek en te laat lééf,” vertel sy op haar webwerf www.annalisewiid.co.za

Alhoewel Wiid Suid-Afrika deurkruis, is haar tuiste steeds op Somerset-Wes en NG Helderberg haar anker-gemeente.

Volgens Wiid is die doel van haar werk om lidmate dieper te wortel in kennis en liefde vir die Here en om hulle toe te rus om ons stukkende wêreld met Sy grenslose genade te dien.

Wiid het in 1993 haar eerste CD bekend gestel. Vandag het sy reeds vyf solo-CD’s op haar kerfstok, benewens twee gedigte-CD’s wat sy saam met Helena Conradie opgeneem het.

Volgens Wiid val haar fokus veral op die karakter van God, die wonder van Sy werk in menselewens en die elke-dag-leefkant van gebed, geloof, hoop en liefde.

“Die rykdomme wat ek op my reise ervaar verwerk ek ook tot stories en boeke waarvan party al gepubliseer is soos Abjater is ’n kuierkat en Dis weer daai kat!,” het sy vertel.

Wanneer Wiid wel by die huis is, gooi sy haar gewig by Helderberg-gemeente in waar sy soms as solis optree.

“Ek is elke jaar deel van die span wat aan die kerssangdiens werk - as ek nie self daarin kan sing nie, help ek skryf aan die teks. En ek skryf ook elke maand ’n rubriek vir die gemeente se koerant, sowel as vir die tydskrif Lig.”

Wiid se volgende optrede is op 12 Februarie by NG Helderberg, waarna sy op 18 Februarie deel uitmaak van die ATKV Lier-toekennings in Johannesburg. Vandaar is die res van Februarie ook propvol optredes en in Maart vertrek sy na Taipei om daar ’n “Geur van Christus”-kamp vir ’n groep Suid-Afrikaners te gaan aanbied.

Bel vir Wiid by 082 456 3396 of stuur ’n e-pos na  Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. vir meer inligting.