Facebook

    

 

Die wonder van elke-dag-rituele

Deur SUZETTE TRUTER, vir SARIE

 

Gedink rituele is outyds? Allermins – dit maak die lewe juis meer spesiaal

‘Rituele dwing jou om dinge wat belangrik is plek en tyd te gee’ – Illustreerder Piet Grobler

‘Dis gelaai met bewustheid en betekenis. Met simboliek.’ – Gospelsangeres Annalise Wiid

Die soengroet voor jy die pad werk toe aandurf, daardie gereelde pot tee saam met ‘n pêl, die aansteek van kerse met skemertyd, die pak van die kaggel vir vanaand se saamsit, die lees van ‘n slaaptydstorie vir die kinders …

So bou ons, soms onbewustelik, elke-dag-rituele in ons besige dae in.

Want hierdie klein seremonies wat ons skep, is dikwels net wat ons nodig het: vir vertroosting, koestering, geborgenheid ….

Al besef ons dit nie eers altyd nie.

 

Vir Piet Grobler, bekroonde illustreerder van Stellenbosch, beteken rituele ‘n slow down. “Dit dwing jou om dinge wat belangrik is plek en tyd te gee, en die goed te laat wat minder belangrik is.”

Hy kry skoon heimwee as hy dink aan die rituele van sy kinderjare, sê Piet. Hy het op ‘n plaas op die Springbok-vlakte in die destydse Noord-Transvaal (??) grootgeword -- die oudste van vyf kinders.

“Ek onthou daardie saans se saam buite eet as dit mooiweer was. Die grasperk het ‘n walletjie gehad, en ons het altyd met ons groenmielies en broodjies op die walletjie gelê - op die naat van ons rûe terwyl ons sterre kyk. My pa, wat bedags baie besig was op die plaas, was dan ook by. Dit was lekker, maar dis eers as jy ouer is dat jy besef hoe kosbaar dit was en wat die waarde daarvan is – hoe dit ‘n kind veilig en geborge laat voel. Dis bakens in jou lewe, goed wat vas staan.”

Rituele kom en gaan, en hang ook dikwels af van die stadium in jou lewe. Op die oomblik is Piet en sy vrou, Griet, se bedrywighede baie gerig op hul dogter, Catherina (5 en ‘n half). Soos hul gereelde buite-eet op die stoep, die Saterdag-uitstappie en spesiale storietyd-rituele. (Met duidelike spesifikasies van Catherina: Piet vertel net Oom Olifant-stories. Dié is koning van ‘n wildtuin waar die vleisvreters hoogstens vis en insekte vreet. Griet spesialiseer weer in Rooikappie en Herklasie die wolf. Lg. is ‘n vredeliewende sneeuwolf.)

En weeksmiddae so om en by sesuur beweeg ‘n prosessie parkie toe: Piet, Catherina en Bella die hond, wat ‘n kardinale rol speel in dié storie.

Nadat Bella die wipplank bestorm het met onaardige geluide (sy haat enige rubber wat beweeg), deel sy dan uiteindelik die speeltoerusting met Catherina – eers wip die twee op die wipplank, dan swaai sy self “soos ‘n madam” en dan ry hulle op die rondomtalie, terwyl Piet hulle stoot – tot groot vermaak van die ander parkiegangers.

Goeie rituele is dikwels dié wat deelname aanmoedig, sê lewensafrigter Margaret Fourie, wie se jongste boek Positive Parenting in Junie by Metz Press verskyn. “Elkeen het ‘n rol om te speel.”

Haar oudste dogter se gesin hou elke Vrydagaand Murphy’s Mania-aand. “Elke keer kry een gesinslid – van oud tot baie baie jonk – kans om te sê wat hy of sy daardie aand wil doen. En daardie aand doen hulle nét dit. Almal geniet dit en neem met oorgawe deel. Dit gee betekenis aan elkeen en sy plek in die gesin. Daardie familie-ritueel is ononderhandelbaar. Dis amper heilige tyd.”

Karin Büter, kliniese sielkundige van die Paarl, sê rituele bied geborgenheid en stabiliteit. “Dis dikwels gerig op stilstaan, ontspan, bymekaartrek, kommunikasie en dis ‘n manier om by jou siel uit te kom.

“Dis ‘n soort meditasie in ‘n andersins vinnige lewe. Dit help jou om jou voete op die aarde te hou en om minder te stres. En dit kan helend wees.”

Gospelsangeres en woordkunstenaar Annalise Wiid het by ‘n vriendin geleer watter genesende waarde dit kan hê.

“My heel persoonlikste leefruimte, my slaapkamer, was besoedel en versteur deur iets wat ek nooit uit eie keuse daar sou toelaat nie. Ek het daaroor gehuil by my vriendin. Toe kom reinig sy dit vir my. Met ‘n ritueel. Van kerse aansteek. En blomme strooi. En sagte musiek. En ‘n gebed.

‘’Daarmee het sy nie net die heiligheid van my plek herbevestig nie. Sy het vir my ‘n ritueel geleer wat deel geword het van my leefstyl. Nou, as ek terugkom van ‘n veeleisende reis of ‘n besonder uitputtende optrede, en dringend nodig het om weer my binnemens bymekaar te maak en my sielself terug te vind, doen ek die kers-ding. Soms steek ek net ‘n enkel kers aan. Soms twee.Soms staan my hele huis in ligte laaie soos die kerse brand. En my plek word ‘n katedraal in die kleine: ‘n vredevolle, beskermde heiligdom.”

Rituele is herhaling, maar dis nie roetine nie, sê Annalise. Dis gelaai met bewustheid en betekenis. Met simboliek. Dikwels met emosie ook. Dit anker my, bring my tot rus, help my fokus en hou my sane! Dit versterk ook my gevoel van dankbaarheid en tevredenheid.”

Selfs die klein, onopvallende ritueeltjies soos soggens se ooptrek van die gordyne, saans se stukkie lees voor slaaptyd, tee uit haar gunsteling fynporselein Londonse-rooibus-beker buite op haar tuinbankie. Dit is deel van die sinvolle liturgie van haar lewe, glo sy.

Rituele is uiteraard ook baie groter as individue en families, dit kan ook gemeenskappe betrek, sê Karin.

“Dis ‘n bindende faktor. Dit help met die oorgang na nuwe dinge. Soos met die geboorte van ‘n kind – dink net hoe spesiaal is die saamkom van vroue om die koms van ‘n baba te vier. Of die hele ritueel rondom die dood. Dis belangrik en gesond, want dis deel van die begin van die rouproses, die hele gemeenskap wat aanvanklik saam met jou rou.

Margaret sê sosiale rituele is ook belangrik omdat dit wys aan watter groep jy behoort – en jy herken ander mense van dieselfde groep daardeur. Selfs iets so eenvoudig soos om cheers te sê as julle glasies klink.

“Die kerk het ook rituele wat teruggaan na donkiejare. Dit skep ‘n gevoel van deurlopendheid. Al is jy net een klein mens, is jy deel van ‘n groter iets wat al soveel jare bestaan. Dis dieselfde as ‘n familieritueel – in ‘n wêreld waar dinge dikwels onveilig voel, en met families wat uitmekaarspat en kinders wat oorsee gaan woon, gee dit ‘n gevoel van kohesie, vertroosting en kontinuiteit. Dis dinge waarop jy kan staatmaak. Jy sê dalk agge nee, dis outyds, maar uiteindelik is dít waaraan jy vashou en dink: Dankie tog, dis nog daar! “

Alta Marais skryf in Familie is ‘n werkwoord (Lux Verbi BM, 2002): ‘Dis interessant dat selfs doodgewone familiegebruike – soos Sondag om die etenstafel – wat week na week in skynbaar eentonige reëlmaat herhaal, wat eendag, lank nadat die kinders huis verlaat het, ‘n heerlike herinnering word wat volwasse kinders aan hul familie van oorsprong bind, en aan hulle riglyne gee vir hul eie families.”

Ouers dra dikwels dan ook deur rituele daardie dinge oor wat vir hulle belangrik is..

Piet en Griet moedig albei hul voorliefdes só aan, Piet, wat vroeër vanjaar drie van die vier goue medaljes gewen het toe die Katrine Harries Toekenning vir Kinderboekillustrasies vir die afgelope agt jaar by die Universiteit van Pretoria uitgedeel is, het ‘n heerlike teken-ritueel saam met Catherina.

“Dan doen ek glad nie my eie tekenwerk nie, sy duld nie gedeelde aandag nie! Ons teken sáám. Eers besluit ons wat ons gaan teken. Dikwels is dit diere – sy is mal oor diere – gewoonlik met klere aan. Soos ons vorder, gee ons oor en weer ons tekeninge vir mekaar aan vir bespreking. Of soms teken ek en sy versier of kleur in. Dis ‘n hele proses”.

Griet dra weer graag haar liefde vir musiek aan haar dogter oor. (Twee dik middeljarige ouers wat galop op balletmusiek is nogal iets om te aanskou, skerts Piet.)

Griet het grootgeword in ‘n huis met baie spesiale rituele rondom Paas – en Kerstyd. Sy het ‘n trommel vol Duitse Kers-en Paasversierings wat sy in die tye uitpak. “Die afgelope drie jaar hou Griet elke jaar vir haar ‘n Paas-teepartytjie. Hulle twee dek saam ‘n pragtige tafeltjie met onder meer Paas-eiers, Paas-servette en ander versierings en nooi ‘n paar maatjies om kom tee drink.”

Rituele het dikwels ‘n spesiale element, sê Karin. En dít kan enige verhouding verryk.

“Een paartjie wat ek ken het ‘n streng beleid om op Vrydagaande nooit uit te gaan nie. Dis tyd vir tot rus kom op die stoep met ‘n glasie wyn. Dikwels in ‘n week waar ‘n mens skaars tyd het vir mekaar, is dit ‘n wonderlike wete: daardie Vrydagaand waarop jy kan staatmaak.”

Karin sê dis ook belangrik om jou eie spesiale seremonies in die week te skep. “Dit kan klein goedjies wees. Soos om net vir jouself ‘n ordentlike ete te maak - dek ‘n mooi plekkie en gaan sit aan om te eet, al is dit by die werk. Of verlustig jou in jou skoonheidsroetine: dis so versorgend en koesterend – die masker op die gesig, die tone verf ….”

Want soms gaan ‘n ritueel net oor pure genoegdoening.

Annalise sonder tuin natspuit uit as ‘n gunsteling.

“My tuintjie is posseël klein en sonder sprinkelbesproeiing. Ek verkies dit so, want my gemoed het die natlei dikwels nog nodiger as my plante. Ek draai die kraan tot so by twee uur – dan spuit die water teen net die regte seënsterkte. Nie versukkeld nie, ook nie vernietigend nie. Net reg. En dan vat ek die tuin – van die pienk rankrosie uit Citrusdal en die pers Petria in die hoek, verby die lekkerruik Buffelsbaaibossies al langs die sitkamermuur op. Ek staan ‘n rukkie stil by elke roosboompie, want elkeen van hulle dra die naam van ‘n mens wat ek liefhet. Dan laaf ek die jasmyn. Dan om die hoek: Die heuningblommetjies en die heide, die potplante, die suurlemoenboom en die Clivias in sy skaduwee. Die tolbos en die nagblomme, die lavenders, die daisies en die Christ Thorn – al om tot by die pot met die grasuie en die tiemie. Dit is sieltyd, bidtyd, dinktyd, droomtyd – alles in een. ‘n Kosbare uur wat my gelykertyd vasbind aan die aarde en aan die hemel. ‘’

Meer as genoeg rede om vandag jou eie ritueel te skep.