Facebook

    

 

'n Lied uit die hart


Deur Jacqueline Leuvennink – gepubliseer in Lééf


Annalise Wiid se musiek is net soos sy, eg en oortuigend want dit kom vanuit ’n eerlike plek, diep binne haar. Dis deurdag en deurleef.

Dis die laaste periode van die dag by ’n hoërskool in die Kaap. ’n Tamwarm Vrydagmiddag. Almal wil net by die huis kom. Alles behalwe die ideale omstandighede vir ’n kunstenaar wat moet optree by die Wêreldbiddag vir vroue-byeenkoms in die saal voor ’n klomp alles-gewoond stadstieners.

Annalise Wiid lyk weerloos daar waar sy kitaar-onner-die-blad, alleen voor in die onpersoonlike skoolsaal sit en wag vir die byeenkoms om te begin. En ek onthou ’n ander sanger op ’n ander plek voor ’n ander gehoor: Johannes Kerkorrel by sy heel laaste optrede. ’n Man met verwondbare oë wat sy uitvoering begin met die woorde: “Onthou, ek is alleen en julle is baie”.

Maar twee minute later weet ek, ek kan maar ontspan. Die vrou met die blinkbruin oë en warm, donker stem lees haar jong gehoor uit die staanspoor uit reg. Hulle luister aandagtig. Want die mens voor hulle praat en sing met ’n egtheid en ’n oortuiging wat net vanuit ’n eerlike plek, diep binne haar kan kom. ’n Betroubare plek. Daar is iets deurdag en deurleef in haar boodskap wat in glashelder Afrikaans duidelik na jou toe aangesweef kom.

 

 

Geen goedkoop sentimentaliteit nie

In ’n resensie van Annalise se nuutste CD, Nkosi is hier, skryf Neels Jackson van Beeld dat haar werk nie “oppervlakkige joegaai-Jesus-liedjies” is nie. “Dis volwasse musiek wat uiteenlopende emosies uit die geloofslewe dra. Dis geen wêreldvreemde godsdiens nie, maar ’n godsdiens wat wortelskiet in die realiteite van die dag. Sy kan die Christuskind besing, maar ook sing oor ’n bedelkind en die pyn dat ’n mens nie weet hoe om hom te help nie.” Hy sluit af met die woorde: “Ek kan nie na haar musiek luister sonder om diep geroer te word nie.”

Jy soek verniet na tekens van stroperigheid of goedkoop sentimentaliteit by Annalise. Haar mede-kunstenaar Louis van Rensburg sê tereg haar liedjies se woorde verraai dat jy hier te make het met iemand wat net soveel meer waarneem en inneem as die meeste ander mense.

Sy tree tot in die verste uithoekies van ons land op en haar wedervaringe sluit drie maande se skottelgoed was op die Doulos-sendingskip in, asook uitreike na Botswana, Bulgarye, Bosnië en Indië. Vir haar hoef jy nie te vertel ons woon nie in ’n wêreld besaai met rose en liewe mense nie. Annalise het gewoon al te wyd geleef om menswees te wil romantiseer.

Mense praat graag met haar. “Die woorde en musiek in my optredes maak emosies in mense los, en ná die tyd wil hulle dit vir iemand sê. En ek is maklik om mee te praat, want môre is ek weer vort.”

Wie is dié God?

Sy het as jong grafiese kunstenaar op Worcester toevallig by ’n uitreik onder straatbendes betrokke geraak. Later het hulle Bybelstories op mure begin verf. Baie het tot bekering gekom omdat hulle iets van God se liefde begin snap het.

Dit het ’n onuitwisbare indruk op Annalise gemaak. Sy wou méér weet van hierdie God wat mense se lewens so ingrypend kan verander. Sy is toe na ’n Bybelskool in Engeland waar sy vir ’n jaar lank in ’n ou kasteel op ’n groen landgoed naby die Lake District gebly het.

Maar sy het bly soek-soek na ’n spesiale manier om uiting te gee aan die verwondering wat in haar bly groei het. Sy was nou “spoilt for the ordinary”, aldus haar ouma.

Dit was eers ná haar terugkeer na Suid-Afrika, op ’n herfsdag onder ’n groot akkerboom op ’n plaas buite Swellendam, dat ’n liedjie die eerste keer met haar “gebeur” het.

Sy onthou dit in detail. “Die son was lou, die middag lui. Ek was alleen. ’n Gedig wat ek kort vantevore oor die Here gelees het, het by my opgekom en ek het begin om die woorde hardop te sê vir die veld, die voëls, die vonkelson en die pers berg se sagte skadu’s.

 

 

’n Wysie vir die woorde
“Skielik was daar ’n wysie by die woorde: nommerpas! Ek het dit gesing. Verwonderd. Uitgelate. Oor en oor...”
Sy, wat geen formele musiekopleiding het nie, het geleidelik sanger, spreker en skrywer geword pleks van grafiese kunstenaar. Die eerste liedjie het gegroei tot baie liedjies – voor baie gehore, in baie kerke, op baie dorpe. Mettertyd tot 5 solo-CD’s ook: Kaalvoet, Naglied, Ons, Blou Kitaar en Nkosi is hier. Die gewilde gedigteprogramme oor Boerneef en Sheila Cussons wat sy saam met Helena Conradie gedoen het, het ook twee CD’s, Makie mooigoed staan en Ek word tintelend wakker tot gevolg gehad. Hul jongste gekombineerde poging is ’n guitige kinder-CD met ’n Afrika-tema: My ouma het ’n skeffie beffel.
Annalise se liedjies is nie almal sonder meer “godsdienstig” nie. Dit weerspieël haar benadering tot geloof as deel van die lewe, en nie iets wat eenkant en afsonderlik beoefen word nie.
“Mense moet my tog net nie begin etiketteer en in ’n heilige boksie vasparkeer nie. Ek is nie ’n moeder Teresa of ’n maagd Maria nie. Die idol worship van gehore is een van die dinge wat my die meeste beangs maak. Ons sukkel almal met onsself én ons leefwêreld. Dis net totaal onrealisties om daar te staan as hierdie supervrou. Die Here is juis vir ons goed daar waar ons sukkel. En Hy bly lief vir ons!”


Weemoed én bewondering
Sy ry dikwels diep geraak deur baie lewens weg van ’n optrede. Soos ná die naweekkamp aan die einde van verlede jaar met ’n groep Xhosa-vroue.
“Ek het ’n lang, lang ent langs die see gaan ry en het toe nog ook ’n ver ent gaan stap in ’n poging om die ontsaglike weemoed én bewondering in my bymekaar te bring.
“Ons het gepraat oor glo en volharding, oor vergifnis en versoening, oor stukkendwees en heelword. Laat die Saterdagmiddag, toe hul sang soos ’n see om my dreun en hul lywe saam met die aanbidding dein, sien ek een wat half wegdraai... wegkyk... met ’n eindelose desperaatheid op haar gesig en trane oor haar wange – haar swaar net te veel om te dra.
“Maar die vroue het om haar kom toemaak met hul stemme, hul gebede en hul verstaan. ’n Koor van: ‘Ag, my suster, dis te groot vir ons – kom ons gee dit vir die Here...’


Struggle is nie net ’n politieke woord nie
“Ek het geleer struggle is nie net ’n politieke woord nie. Dis elke dag se oorleef; groot weerloosheid en nog groter moed. Dis om te probeer praat sonder ’n stem; om aan te hou sing, al luister niemand nie. ’n Groot, groot bewondering het sáám met die weemoed in my opgestaan.”
Ná die kamp kom sê ’n vrou: “Ek het die Here se woorde kom oppik soos ’n hoenderhen mieliepitte pik; nou gaan ek goeie eiers in my gemeenskap lê...”
Die pad wat Annalise gekies het (of wat háár gekies het) is nie ’n maklike een nie. “Ek leef mos half uit pas met die normale wêreld. Wanneer ander mense afskakel en begin naweek hou, moet ek juis op stryk kom vir die hardste stuk werk van die week. En dis altyd vol mense en ervarings en emosies. Ek kom nooit onaangeraak daardeur nie.
“Agterna strompel ek my huis binne soos ’n pakdonkie – tot omval toe gelaai met al die indrukke, verrukkings, geheime en onderstrominge wat my kunstenaarsiel gedurig ongemerk tussen mense optel.


By uitbrand gaan draai
Dan moet sy eers ’n dag of twee afvat om weer al haar stukke op te tel, alles rustig deur haar te laat filtreer vir later se liedjies en woorde. Sy het vier jaar gelede by uitbrand gaan draai, ’n skrikwekkende ervaring.
“’n Mens word wakker en jy is te moeg om op te staan, jou tande te borsel. Ek het nie gedink ’n mens kan so moeg raak nie.”
Sy was altyd onderweg. Nou moes sy leer om nadat sy soveel van haarself gegee het, die volgende dag stil te bly sit in haar bed, rug teen die kussings... en te kyk. Tuis in Somerset-Wes sien sy die see wat die son se spel met die wolke weerkaats. Of Tafelberg se profiel “wat onversteurbaar noord bly kyk – met ’n eeue-oue rustige geduld”.
“Jy’s nogal intens, nè,” som ’n omroeper haar onlangs in ’n radio-onderhoud op. Agterna bedink Annalise die woord. Niemand het haar al voorheen so beskryf nie. Sy soek en kry haar eie definisie daarvan. “Dis iets wat diep ervaar word; wat insny tot in jou hart der harte. Amper soos lig wat deur ’n brandglas op een kolletjie gekonsentreer word en ’n groot vuur aansteek. Dit los jou nie onaangeraak of onveranderd nie.”


Die wonder van Jesus
Sy ken daardie vuur, ja. Maar sy weet ook dat as jy heeltyd bewus moet wees van die wonder van Jesus in jou “jy dalk sal smelt of oplos of uitmekaarval”. Sy het ook baie doodgewone dae van opstaan, werk, gaan slaap en aanhou glo. “Wanneer jy maar rustig kan wees as jy dit nie so intens ervaar nie, want Hy is in elk geval daar.”
Johan Theron van Kingfisher Sendingmobilisering bel haar ’n ruk gelede. Hy was in die Oekraïne by ’n Russiese pastoor aan huis. “Sit,” sê die Rus, “ek wil vir jou musiek speel.” En tot Johan se stomme verbasing speel die ou vir hom Annalise se CD Blou Kitaar. Die Rus was in Suid-Afrika vir opleiding en het die CD hier gekoop en saamgevat huis toe.
“Ek luister dit aanmekaar,” sê hy vir Johan. “Ek hoor die Here daarin...”