Facebook

    

 

Resensies oor NKOSI IS HIER

Annalise Wiid - Van Loflied tot Liefdeslied.

Vir engele en sterflinge

Schalk Schoombie, Beeld Julie 2005

 

Daar sing nog nie engele saam met Annalise Wiid soos saam met Jason Upton nie. 'n Mens kan egter aanvaar dat hulle luister en dat hulle van haar jongste album, Nkosi is hier, hou. Gewone sterflinge sal dit nog meer geniet, want Wiid se geestelike liedjies spreek tot almal. Omdat van die liedjies nie sonder meer ''godsdienstig'' is nie, maak dit die album vir nog meer mense toeganklik. Dis 'n gebalanseerde mengsel van lof, maar ook die vreugde en ander aspekte van die lewe.

Die snit Ek wens ek weet kan by voorbeeld ewe goed in die luisterlied genre pas en die lied Sonder jou is my dae leeg (George Weideman se gedig uit Pella lê" 'n kruistog ver) kan 'n pragtige liefdeslied in eie reg wees. Die verwerkings wat Matthys Maree gedoen het, is 'n lus om na te luister. Maree speel ook klavier, klawerbord en trekklavier op die album. Mathys Roets is 'n agtergrondsanger en die kitaarspeler Mauritz Lotz bewys dat hy nie net vir rock, pop en jazz ingespan hoef te word nie. Sy bydrae is ewe groot by meer besadigde musiek. >>

Om die klank nog meer uniek te maak, is daar 'n verskeidenheid fluite, van Kelties tot Chinees, en 'n tjello gebruik. Wiid skryf haar eie musiek en lirieke. Op hierdie album het sy die musiek van Greensleeves gebruik vir 'n nuwe Afrikaanse Kerslied. Dis 'n genre in ons musiek, vir die kerk en die lewe daarbuite, waaraan 'n enorme behoefte vir nuwe werk bestaan.

 

Nkosi is hier – Annalise se nuwe CD

Op Annalise se vorige CD is die “geestelike” en die “sekulêre” liedere afsonderlik op die twee CD’s in die stel. 'n Mens het egter toe al die gevoel gekry dat daar 'n diep reservoir van spiritualiteit vlak onder die oppervlakte van die “sekulêre” liedere lê en die “geestelike” liedere het net soveel met God se skepping te make gehad as met Hom Self.

Op haar nuutste CD sou mens die liedere baie moeilik kon indeel in hierdie twee kategorieë. Annalise het hiermee finaal tuisgekom in die nis wat sy die afgelope jare vir haarself gevind het binne die Suid-Afrikaanse musiekwêreld: sy skep liedere wat eweveel erns en passie ten toon stel vir God en sy skepping. Daar is 'n naatloosheid in haar gerigtheid op God en op die wêreld waarbinne Hy haar geplaas het wat 'n mens by baie min gospel-kunstenaars teëkom.

Die sterkste lied op die CD is die lied waarna die titel verwys: Nkosi.

Daar is stories agter 'n hele paar van die liedere. Nkosi is geïnspireer deur die aanloop tot die dag waarop die Algemene Sinode van die NG Kerk verlede jaar op Afrika gefokus het. Annalise was deel van die groep wat die sang op die sinode gelei het. Die lied is as deel van die dag se spiritualiteitsessie gesing en het vir Nico Simpson geïnspireer om dieselfde dag nog die treffende skildery te skilder wat op die CD-omslag gesien word. Die lied vertel van Afrika met al haar ellendes en oorlog die die helende en genadige teenwoordigheid van God wat altyd daar is. Die refrein se roep na God kon dán as 'n klaaglied oor en dán as 'n geloofsbelydenis. As hierdie lied nie in aanmerking kom vir 'n Lier-toekenning nie…!

Loop op die water is geskryf vir haar vriendin, Annelise de Bruin, toe sy Sri Lanka toe is. Die woorde het 'n byna onheilspellende vooraf-verwysing na dreigende golwe en water – enkele maande voor die Tsunami Annelise se lewe ingrypend kom verander het.

Ek wens ek weet is geskryf as 'n reaksie op die gestoei oor kerkeenheid na die Algemene Sinode se besluite verlede jaar. Vir my is hierdie lied, saam met Nkosi die ander lied waaraan die CD gehaltegewys hang. Die twee liedere sit dan ook gerieflik soos twee boekstutte aan die begin en einde van die CD. Annalise laat 'n mens se bloed soms gaan staan met haar poëtiese aanslag. Die NG Kerkfamilie se verdeling is “'n vreemde soort apart-heid” wat ons lewens beheer; woorde word gebruik om “oor 'n loopgraaf-afgrond” na mekaar te skiet “met dubbelloop-begrippe vol verwarring en verdriet”; “ek wens ons kan mekaar se fynskrif lees” word later “ek wens ek weet ons sal die pynskrif mooi kan lees”.

Musikaal gesproke is daar baie om te geniet op die CD. Annelise het van haar sterkste liedere nog geskryf. Matthys Maree se verwerkings en produksie is 'n kunswerk op sigself. Luister ook gerus met aandag na die uitstekende kitaarverwerkings en –spel van Mauritz Lotz. Die musikante het geweet wanneer om stil te raak, wanneer om na vore te tree, wanneer om die eenvoud van 'n lied te koester en uit te lig. Die resultaat is 'n simbiose wat 'n mens gewoonlik net kry by 'n groep musikante wat al vir jare lank saamspeel.

Sit die CD op, skop jou lazyboy se voetstuk uit, vou die boekie met die liedjies se woorde oop en geniet die reis waarop Annalise jou neem. …En wees bereid om anders anderkant uit te kom.

Breda Ludik, Helderstem Junie 2005

 

 

Nkosi is hier -   Annalise Wiid

CD AS (WL) 07   Versprei deur Brettian Productions

Annalise Wiid se nuwe CD Nkosi is hier is die beste nuus wat haar aanhangers sou kon kry. Dit bevestig al die wonderlikhede wat 'n mens deur die jare van Annalise se musiek leer ken het - en daar is baie daarvan:

Sy het 'n wonderlike stem wat teerheid en pyn, vreugde en wroeging kan oordra. Sy beheer dit uitstekend van die lae tot die hoë registers waarmee sy verskillende emosies in verskillende liedere vertolk.
Die woorde van haar liedere is deurdag en deurleef - en sy sing dit so dat 'n mens elke woord kristalhelder kan hoor.
Haar geestelike musiek is nie oppervlakkige joegaai-Jesus-liedjies nie, maar volwasse musiek wat uiteenlopende emosies uit die geloofslewe dra. Sy kan die Christuskind besing, maar ook sing oor 'n bedelkind en die pyn dat 'n mens nie weet hoe om hom te help nie. Sy sing oor God se genade én pleit dat God dit oor Afrika sal uitstort. Sy sing oor die mooi en die swaar van die godsdiens. En dis nie 'n wêreldvreemde godsdiens nie, maar 'n godsdiens wat wortel skiet in die realiteite van die dag.
Die kombinasie van geestelike liedere en liedere waarin die godsdiens nie eksplisiet ter sprake kom nie, weerspieël 'n gebalanseerde benadering tot die geloof: Dis deel van die lewe, nie iets wat eenkant en afsonderlik beoefen word nie.
Die musiekinstrumente waarmee sy begelei word, kompeteer nooit met Annalise se stem nie, maar komplimenteer dit sodat 'n mens die beste daarvan hoor.

Ek sou kon voortgaan om aspekte van Annalise Wiid se kuns uit te sonder en op te noem, maar daar is iets belangriker wat dan verlore kan gaan: deur die kombinasie van al dié faktore slaag sy daarin om liedjies te maak wat diep in 'n mens se binneste aan emosies kom roer. Haar stem, haar woorde, haar insigte, haar emosies, dit alles kom vat aan 'n mens se hart.

Ek kan nie na haar musiek luister sonder om diep geroer te word nie.

Neels Jackson 2005