Facebook

    

 

Resensies oor BLOU KITAAR

ANNALISE WIID   - die vrou met ‘n hart vir woorde, wysies, mense . . .

Die Helderstem

 

Laasnag het ek gelê en luister na haar nuwe cd “Blou Kitaar” en die woorde het knus in my hart kom rus. Die eenvoud en tog rykheid van ons taal wat die waarhede hier binne ons kom verwoord. Die een cd sing oor die wêreld van die geliefde en die ander een oor die wêreld van die gelowige. Ja, ons is in hierdie wêreld en tog nie van hierdie wêreld nie. En dit is hoe ek vir Annalise ervaar : ‘n Vrou wat hier leef, maar met ‘n hart vol skatte wat sy uit God se skatkamer gekry het.

Annalise het in 1994 haar in ons gemeente kom vestig. Waar sy vinnig tuis gevoel het by mense wat deernis gee en liefde leef. Op daardie stadium het sy pas haar eerste cd, Kaalvoet, vrygestel. In die jare wat volg het sy nog vier cd’s vrygestel (Naglied, Ons, Makie Mooigoed Staan en Ek Word Tintelend Wakker), twee boeke geskryf (Abjater is ‘n Kuierkat en Dis Weer Daai Kat!) en selfs ‘n paar draaie op die KKNK verhoog gemaak. Maar ons in die gemeente ken haar ook as een van ons sendelinge wat op byeenkomste, kampe en seminare mense tot aanbidding bring en lering gee oor God.

My en Annalise se gesprek het baie draaie geloop, maar daar was twee dinge wat ek graag met julle sal wil deel:

 

“Hoe sien jy jou rol as vrou in die bediening?”

In Christus is ons almal één – dit maak nie saak of iemand man of vrou is nie. Ja, ons is verskillend in liggaam, en miskien ook in siel, maar nie in géés nie. God het ‘n boodskap wat moet uit, ‘n geskenk vir die wêreld en die geskenk word toegedraai in verskillende papiere. Wanneer die geskenk oopgemaak word, word die papier weggegooi en bly net die boodskap oor. Man- of vrouwees word dan in ‘n sin irrelevant, dis net die omhulsel…– solank die geskenk wat binne is mense net by Christus bring.

“Hoe voel jy oor die kerk?”

Baie opgewonde! Vanuit ons verhouding met God is daar oneindig baie invalshoeke vanwaar ons as kerk die wêreld kan dien. Ons kan lewe aangee, want in Christus is daar lewe. En hoop. En heling. Die kerk het ‘n lang pad gestap na die apartheidsjare. ‘n Seer pad. En vir die afgelope paar jaar was die kerk huiwerig, miskien onseker oor hoe die wêreld haar optrede sal sien. Maar dit is besig om te verander. Ons as kerk het begin om ‘n gebroke gesig te wys vir die wêreld. Ons gaan deur dieselfde pyn, probleme, worstelinge, konfrontasies…, maar daar is ‘n verskil. Ons ken God se grenslose genade. En dít is wat die wêreld moet sien: Ons, wat uit ons eie gebrokenheid, ontfermend en genadig leef, verwonderd oor Christus se liefde vir alle mense. Ek is die lig, ek is die sout, ek is… vir hierdie wêreld.

Blou soos in depro? Of blou soos in hemels?
Blou soos in kneus? Of blou soos in koringblom?
Jy sou dalk wou vra:
Van watter soort en skakering blou sing hierdie Blou Kitaar van jou?
 
 

 

Ek sou dalk antwoord:

Op groen dae tel ek my Blou Kitaar op,
Soos die storieskeerder in die rooitaalgedig,
En sing my bestaande wêreld towerblou :
The man bent over his guitar,
a shearsman of sorts.
The day was green.
They said: “You have a blue guitar.
You do not play things as they are.”
The man replied: “Things as they are
are changed upon the blue guitar.”
Wallace Stevens, The Blue Guitar

 

Dinge verander op die blou kitaar, ja, soos klei, soos my hart, soos dit net ín God kan.