Facebook

    

 

'n stil brug oor ons weerloosheid

Wanneer die jaar se wielewaal so begin afwentel – stadiger, stadiger, rustiger, kalmer, – vind ek dat ek weer helderder dink, dieper voel en fyner begin luister. Dit word stiller binne-in my. Stil. Ek hoor meer, helderder. En soms, soos die afgelope weke, wil ek my ore toedruk. Want wat ek tans in NG Kerk kringe hoor maak my hart seer: Woorde, frases, soos “ons distansieer ons van die gesprek” en, by implikasie ook dan van mekaar. Of “ons weerhou nou ons finansiële bydraes”.  Of “dis al weer die ou storie van mag en manipulasie”. Of, nog erger, “ons voel ons self nie meer veilig of tuis hier nie”. Stil.

Ek hoor soekende, sukkelende woorde soos “hoe help ek my kind hiermee?” Of "unity in the essential, liberty in the non-essential – maar is onvoorwaardelike liefde nie 'n essential nie?" Of “wat maak ek met die kwaad, die seer, die venyn, die apatie, die teleurstelling, die vernedering en gebrokenheid wat dreig om ons te verswelg?” Of, nog pynliker, “hoe bly staan ek tussen my twee broers, wat ek lief het, wat weerskante van my is, beide opreg seker van hulle saak, maar hulle kan mekaar glad nie vind nie; wat vra die Evangelie van Christus nou van ons?” En, o God, “wat word nou van die nagmaaltafel?”  Stil.

Lees verder...

eet turmeric en cherries en hou moed

Pynlik stadig en weggesink in my eie kokonwêreldjie, wat tans maar grys is soos ‘n wintersee, kruie ek gister deur die Mall. Klomp mense blits by my verby. ‘n Uitsonderlike een val langs my in. ‘n Jong reus – maklik een en ‘n half maal my lengte. Hy pas sy stap spoed, afgemete, gefokus, by myne aan. Sê niks. Smile en kyk net vir my.

Jy ken van krukke-loop, sê ek.
Ja, sê hy, ek het ook op ‘n tyd so aangesukkel. Maar kyk hoe lekker loop ek nou!
En hy gee ‘n paar groot treë vorentoe om dit te bewys. Staan dan en wag tot ek weer langs hom kom. Stap stadig verder saam met my …
Hy sukkel nog bietjie met sy balans, maar andersins is hy okay, sê hy. Die vrolike jongman loop praat-praat met my tot by Edgars se deur:

Lees verder...

selfs as ek struikel en dit berou

Picture the scene: Ek kom die kerk van voor af binne – uit die konsistoriedeur, reg langs die preekstoel, waar almal my kan sien. Die gemeente sit gepak – ‘n goeie seker 600 mense, dalk meer. En voor hulle almal kom ek tot ‘n vreeslike val! Van nie kyk waar ek loop nie. Van ewe vrolik en vriendelik groet en glimlag, kyk ek mos toe ‘n laerige trappietjie skoon mis en slaan neer met ‘n aardskuddende knal, soos ‘n bliksemstraal!!  Wat ‘n enorme en pynlike verleentheid.  :-)

Dominee, drommer, keyboard speler, lofdansers, dokter – binne sekondes swerm hulle almal om my; help my op, verbind my voet, maak my gemaklik op die voorste kerkbank, hou my hand vas, vryf my skouer, bid vir my, dra water en pynpille aan. Iemand kom aangehardloop met ‘n bevrore wildsboudjie uit die kerkkombuis se vrieskas, toegedraai in ‘n PicknPaysak – sit dit op my swellende enkel as ‘n nood-“ice pack”.

Lees verder...

gee my krag!

Kan jy glo? Eskom het my ‘n guns gedoen! Ek weet meeste van ons is deesdae meeste van die tyd diep die dinges in vir hulle, maar vir ten minste een keer het Eskom my ‘n guns gedoen.

 

Sondagoggend tussen 10:00 en 12:30 het die krag in hulle kabels weer gaan lê – futloos, soos ‘n uitgewaaide wind. Doodtjoeproerloosstil. Letterlik. Want eensklaps is die radio se mond gesnoer. Die CD kon nie speel nie. Die TV was stom. Al die gewone agtergrond geluide was weg. Skoonveld. Salig! Ek het weer bewus geword van voëltjiekwetter in die tuin, die bure se stemme, kinders wat lag by die swembad. En tussendeur net niks. Suiwer, bekoorlike klankvrye stilte.

Lees verder...

'n EKSTRA Kersgeskenk

Ons was nog nie 3 ure op pad vir ons 3 weke vakansie nie, toe trap Vriendin in ‘n spoelgat in die veld en ‘n skerp klip sny haar enkel van voor tot agter siel-sidderend oop. Ja, jy’s reg, dit was inderdaad ‘n –slag. Sy loop nou vir die res van haar lewe met ‘n ellelange letsel. En die res van ons met die grafiese wete dat ‘n wond werklik kan gaap. Godsgenadiglik is daar aan niemand blywende skade nie. En was daar steeds onvergeetlike, verruklike belewenisse op die tog. Maar ons het ook ‘n paar lewenslesse weer goed hersien, hoor.

 

Die belangrikste daarvan was: As jy op reis is met ‘n wond (hetsy in die voet of die gemoed) het jy ‘n paar ekstras nodig:

Lees verder...