Facebook

    

 

Hallo en Koebaai!

O, jy moet sien hoe lyk dit nou hier by my: Daar lê ‘n oop tas op die bed – ‘n KLEIN tassie, want ek moet LIG pak, daar’s min plek in die voertuig! Rondom die tassie lê dit besaai van klere – kort broeke, ligte hempies, plakkies, swembroek, sonbril, kamera met verskeie geheue kaarte … Op die kombuis toonbank staan piekniek goed, peuselgoed, wyn en water langs die Leatherman, taai tape, Sunlight seep, Newman se voël-boek en die verkyker. In die noodhulp kissie is pyn-, maag-, naar- en malaria pille en pleisters. Reg geraai, ek pak nie vir ‘n gewone optree-trippie nie, ek pak vir Afrika!

Gone Fishing

 

Koebaai werk, hallo vakansie! Vir die komende 3 weke, van 22 September tot 12 Oktober is ek LAND UIT– sonder sel of sein en dus ONBEREIKBAAR en VAN DIE LUG AF. Jy sal my net kan kry as jy ‘n soekgeselskap stuur op die spoor van die 4x4’s met die vyf vrolike mense – iewers Noord van Oos en Wes van Suid tussen die olifante en die water en die kremetarte en die sand :-)

 

Ek ontvang dus eers weer eposse (en navrae en bestellings en besprekings en skenkings en erflatings en diamante en Switserse sjokolade ) NA 12 Oktober.

 

Re-laas: Oor die afgelope klomp optredes kan ek boeke vol skryf! Miskien meer daaroor in ‘n volgende brief, of dalk in ‘n LiG rubriek. Vir nou volstaan ek hiermee: Ek is geskok, ontroer, uitgedaag, teleurgestel, bemoedig, bedroef, bederf en begeester. En nog meer!

 

Koebaai is net lekker as mens met vakansie gaan. En selfs dan los mens jou geliefdes swaar. In die afgelope weke en maande moes van my vriende egter finaal afskeid neem van hulle lewensmaats, kinders, ouers. En voetjie vir voetjie leer vorentoe leef in die ontsaglike leemtes wat dit laat. Dis ‘n ander storie.

 

Susan Murray, wie se man Henry hierdie week op Morgenster in Zimbabwe begrawe is, het min moed gehad om terug te gaan na hulle verlate huis, waar sy nou hulle leeftyd saam alleen moet gaan oppak. Haar dogter beskryf hulle aankoms by die huis so mooi op Facebook:

 

We were met in whispered embrace by the warm compassion of a few ladies and Dr Rutoro, my Father’s soul friend of 14 years. In the dark we walked through the garden and as we rounded the corner of the house our spirits were jolted by the softest, gentlest Shona song. Harmonies rising like incense to the heavens. Healing balm to our wounded hearts.

About 40 community members sat quietly on the grass in the darkness with only their soothing song to reveal their presence.

A few introductions, a few prayers and we were taken inside the home … to share an abundant meal prepared for us with so much love.

What a soft, warm landing that wrapped our pain in love and tender compassion.

Our brothers and sisters have received us home, welcomed us with care and the love of the Lord.

 

En so word die ondraaglike toe effe draaglik gemaak. Pyn toegedraai in liefde en omgee.

Dalk koes jy ook tans vir koebaai se snykant?

Mag iemand dan naby wees om jou op te vang en toe te draai …

 

Tot ons volgende “hallo”, leef ligvoets, trap fyn en kyk mooi,
Annalise