Facebook

    

 

Sjuut, luister, ek dink ek hoor waardevolle dinge groei

My Helena-vriendin se seuntjie was nog baie klein – seker nog nie 3 nie – toe hy eendag op die kombuisvloer sit en speel en ‘n spinnekop sien. “Mona, daar’s ‘n spinnekop”, het hy dadelik die huishulp gewaarsku. Sy het hom egter nie gehoor nie, en onverstoord voortgegaan met haar werk.

Hy het weer gesê: “Mona, daar’s ‘n spinnekop.” Wéér het sy nie reageer nie.

Hy het ‘n derde keer, steeds ewe rustig, gesê: “Mona, daar’s ‘n spinnekop” En ‘n derde keer het sy hom óf nie gehoor nie, óf haar net nie aan hom gesteur nie.

Dis tóé dat hy vererg sis: “Kwits, ek raak so moeg vir die baie woorde!”

Kwits, ek ook soms! Dié dat ek nou eers skryf. Hierdie jaar het my effe onverhoeds gevang, met die vaart en die impak van ‘n fratsgolf.  Heng, ons seil dan al langbeen en gelyk-lyf oor die 1ste kwartaal se hekkie! Waar is die dae heen? Hoop jou eerste 3 maande was orraait? Myne: Ek het innige simpatie ontwikkel met die Egiptenare in Eksodus. “… hulle [het] almal bitterlik aan die huil gegaan, want daar was nie ‘n enkele Egiptiese huis sonder ‘n sterfgeval nie.” (Eks 12: 30)  My jaar het so begin. Op ‘n kol het ek gevoel ek ken nie ‘n mens sonder ‘n hartseer of ‘n groot ellende nie. En ek het bitterlik saam met hulle gehuil en gehoop en gelééf en geklou aan halms en brokke genade. Toe gaan kruip ek vir ‘n lang ruk net eers weg in stilte. “Some stones are so heavy, only silence helps you carry them.” (Anne Michaels)

 

 

Relaas:  Ek het darem steeds my werk gedoen – lekker in Ermelo, Vredelust, La Rochelle, Laingsburg, Sutherland en Beaufort-Wes gaan praat en sing. ‘n Interessante Vroue-wat-Glo oggend met Finesse lesers gehad in die Barnyard teater, Durbanville.  En twee BAIE lekker artikels geskryf vir Kerkbode: een oor Nobuntu, wat in ‘n speelpark-blou skeepvraghouer berading doen vir “suicidal” tieners en hulle “troubled” ouers; en een oor Jomien, wat op Saterdae die kinders van Khayelitsha leer musiek maak.

 

Kyk gerus ook in April se LEEF (nou op die rakke) – daarin nooi ek 5 vroue uit die Bybel na ‘n Paas-ete by my aan huis …

 

En Gautengers, maak ‘n merk of ‘n knoop of ‘n duik of ‘n ding: Op 20 Junie doen ek en Elise Bosch ‘n lekker storie-en-songs show in die Atterbury teater saam met LIG. Meer daaroor in my volgende brief. Ek belowe dis binne 3 maande :-)

 

Na jare se stilte – ons het geen woord van mekaar gehoor nie en mekaar ook nooit weer gesien nie – loop ek dié week ‘n tannie raak op wie se Karoo plaas ek in my 20’s gekuier het vir ‘n naweek. Sy’s grieperig en haar keel krap. Ek haal my (uiters effektiewe) Switserse Ricola streel-suigies uit my klanksak en gee dit vir haar. Want toe ek jonk was, was haar huis en haar hart oop vir my. Destyds se brood-op-die-water werp nou vir haar ‘n vruggie af. Die lang stilte tussen-in ten spyt. Niks het gesterf of verdwyn nie. Die waardering en medemenslikheid en omgee het waarskynlik net gegroei.

 

Die Pase lê nou voor ons deur. ‘n Gawe tyd vir stiller word. Mag jy daarin nuwe lewe en nuwe groei ontdek …

“…ook die maan gaan oop
hoe kan ‘n mens sê
maar alles gesels van ‘n nuwe rus:
die hart kom lê sy kop neer”  - Breyten Breytenbach

 

Annalise