Facebook

    

 

ons Rustelose Wind-God

Elke jaar, as Augustus ons tref – die maand van rustelose wind – dink ek aan Lucas Maree se woorde:

Augustus se winde wat troosteloos maal, het die lente dalk iewers gaan haal.

Vanoggend struikel ek per toeval oor NP van Wyk Louw se gedig “Profeet”. Dit ruk my hart soos ‘n dwarswind rond. ‘n Worstel-gedig. Die Profeet in ‘n soekende, verwytende, verlangende gesprek met God. Nee, nie gesprek nie, klag. En tog ook nie net klag nie. Terselfdertyd, op ‘n vreemde manier, ook verwondering en verblinding en troos. Ek haal vir jou brokke daaruit aan. Lukraak, soos dwarrel papiere in die Suid-Oos:

 

U is die Rustelose, U is die wind
wat warrelend oor die vlamwit vlaktes waai
van die heelal, dat die blink stof van sterre staan

U is begeerte, en pyn, en 'n verlange,
en het ons hart in so 'n drif gemaak
dat nêrens rus vir ons bestaan

En tog het U 'n rus beloof soos van diep kuile
onder die stormwind …

Maar die rus is nie noodwendig in stil kalmte en vredigheid nie. Hoe vreemd, dié God van ons, wat – juis wanneer mens “genadeloos op jou knieë neergeslaan word, in 'n donker hoop gehurk” – jou nie noodwendig op die “hoë sneeukop van genade” ontmoet nie. Maar jou omtol en saamswaai, en met sy geweldige wind opeis:
‘n ander genade …

Re-laas:   Die show wat ek saam met Elise Bosch gedoen het, in Pretoria en Wellington, was WONDERLIK! ‘n Regte emosionele roller coaster wat mens uit die maag uit laat lag en jou uit jou diepste derms laat kreun – hoe dan nou anders met Hillbrow en kanker as die temas!? Wat ‘n fenominale mens is Elise nie. Soveel liefde in haar hart! En hoe bevoorreg is ek elke keer wanneer ek blootgestel word aan realiteite anders as my eie – wat my horisonne verbreed, my sekerhede uitskud, my begrip uitdaag en my omgee stretch

Soos ook met die Wel-wees in die Werkplek-dag, waar ek ‘n groep kleuterskool onderwysers van Badisa moes “toerus” en inspireer. Sterk, kleurryke, deurdruk-vroue! Wat my (en mekaar) eindeloos verryk het met hulle leef-en-glo-ervarings.

Ek kon ook baie lekker saam-kamp met die vroue van Windhoek Eros gemeente. En kerk saam met Somerset-Wes Moedergemeente. En ek kon interessante stories versamel wat tot LiG rubrieke en Kerkbode artikels verwerk is en binne die volgende maande gepubliseer word.

En nou begin ‘n roller coaster van ‘n ander aard: Vanderkloof/Petrusville, Oos-London, Stutterheim, Richardsbaai, Bellville, Rawsonville, Verwoerdpark, Nelspruit, Vanderbijlpark …

Veral in hierdie jaar, waarin dit met my baie goed gaan, maar die mense naby my dikwels so vreeslik swaar kry, probeer ek God meermale raakvang in ‘n warrelwind. Van Wyk Louw se gedig help my vandag (help jou dalk ook) daarmee:

Verloën my nie o God, verloën my nie,
ek weet U is geen rusplek en geen troos;

U skuim in ons op soos die see se water
U stort in ons af soos die reën wat val
en stroom van alle kante soos die wind

ek moet … daeliks weer my vlamme-waarheid gryp -

al my onrus is die saamswaai met
u magtige wind -
                       en Heer, ek staan weer sterk
in die andere genade wat U gee.

Om saam te swaai en sterk te staan … vlamme-waarheid verblindend, ver-wond-erd, voor oog …

Om te (ver)wag die Lente gaan uit ‘n troostelose wind gebore word …

Mag jy oorgenoeg genade kry,

Annalise