Facebook

    

 

gee my krag!

Kan jy glo? Eskom het my ‘n guns gedoen! Ek weet meeste van ons is deesdae meeste van die tyd diep die dinges in vir hulle, maar vir ten minste een keer het Eskom my ‘n guns gedoen.

 

Sondagoggend tussen 10:00 en 12:30 het die krag in hulle kabels weer gaan lê – futloos, soos ‘n uitgewaaide wind. Doodtjoeproerloosstil. Letterlik. Want eensklaps is die radio se mond gesnoer. Die CD kon nie speel nie. Die TV was stom. Al die gewone agtergrond geluide was weg. Skoonveld. Salig! Ek het weer bewus geword van voëltjiekwetter in die tuin, die bure se stemme, kinders wat lag by die swembad. En tussendeur net niks. Suiwer, bekoorlike klankvrye stilte.

 

 

Ek het skottelgoed gewas. En terwyl my hande die vuil in skoon omtower, het my kop wye draaie geloop: Een-een by my naastes aangedoen; gaan stil staan. Stil. En op ‘n ek-dink-aan-elkeen-met-groot- liefde-manier ‘n geluidlose Godgesprek in my gedagtes gevoer. Ek het die beskuit wat deur die nag uitgedroog het tydsaam weggepak. En vir die nuwe bure skons gevat – wat ek gelukkig die vorige dag gebak het toe beide ek en Eskom nog krag gehad het.

 

Daarna het ek die tuin natgespuit, met die wind in my hare en die son op my rug. ‘n Wit skoenlapper het aanhoudend vrolik om my rondgevlinder. ‘n Wolk wat nes ‘n donkievul in ‘n Claerhout-skildery lyk, het deur die lug galop. Ek het lelies geruik. Asemgehaal. En gelukkig gevoel.

 

Die 2 en ‘n half stil ure se klein handelinge gaan nou wel geen aardskuddende effek hê nie. En ek sou waarskynlik baie meer kon uitrig as al die nodige en handige elektriese apparate up and running was. Maar vir hierdie een keer het Eskom my nie frustreer en omgekrap nie. Hulle kraglose kabels het my ‘n guns gedoen: Ek het krag gekry.

 

Uit die stilte. In my hart. Om met nuwe kreatiwiteit en groter deursettingsdrif te lééf. En dieper lief te hê.

 

Dit is wat ek jou toebid vir 2015 …

Krag! 

 

In die Amplified se woorde uit Efesiërs 3: 16 – “May … you … be strengthened and reinforced with mighty power in the inner man by the [Holy] Spirit [Himself indwelling your innermost being and personality]”

 

Groete,

Annalise

Ns. Tot die einde van Februarie is ek nog besig met skryfwerk en voorbereiding vir die jaar se optredes. Begin Maart, ná ’n  Wêreldbiddag vir Vroue byeenkoms by La Rochelle gemeente, vat die vlieëry weer vlam as ek Gauteng toe gaan vir nog ‘n Wêreldbiddag optrede by Secunda Goedehoop. Later sluit ek Maart weer af met stories en songs oor die liefde op Saldanha.