Facebook

    

 

selfs as ek struikel en dit berou

Picture the scene: Ek kom die kerk van voor af binne – uit die konsistoriedeur, reg langs die preekstoel, waar almal my kan sien. Die gemeente sit gepak – ‘n goeie seker 600 mense, dalk meer. En voor hulle almal kom ek tot ‘n vreeslike val! Van nie kyk waar ek loop nie. Van ewe vrolik en vriendelik groet en glimlag, kyk ek mos toe ‘n laerige trappietjie skoon mis en slaan neer met ‘n aardskuddende knal, soos ‘n bliksemstraal!!  Wat ‘n enorme en pynlike verleentheid.  :-)

Dominee, drommer, keyboard speler, lofdansers, dokter – binne sekondes swerm hulle almal om my; help my op, verbind my voet, maak my gemaklik op die voorste kerkbank, hou my hand vas, vryf my skouer, bid vir my, dra water en pynpille aan. Iemand kom aangehardloop met ‘n bevrore wildsboudjie uit die kerkkombuis se vrieskas, toegedraai in ‘n PicknPaysak – sit dit op my swellende enkel as ‘n nood-“ice pack”.

 

Die diens begin amper 10 minute laat. Ons eerste lied is: “God is hier teenwoordig, … kom nou almal nader”. Ek is veronderstel om daarop te antwoord met my eie lied: “Here, ek kom nader”, maar ek besef: onder die “gevalle” omstandighede gaan dit bietjie (baie) stupid klink, want my volgende singwoorde is dan: “kaalvoet, skoorvoet, lomp …!” Die gemeente skater toe ek dit sê. Ons lag al die skrik oor my skielike val skoon weg.

Op die ou end hou ek kerk in my swart-en-wit-strepies sokkies – my skoene lê onder die kerkbank uitgeskop – terwyl ek op my linkerbeen staan en balanseer soos ‘n koningskiewiet. My regterknie stut ek op ‘n stoel, sodat die beseerde voet in die lug kan hang. Komies, potsierlik en ongemaklik seer!!! Teen die einde van die tweede diens, help die dominee my stadig en sorgsaam die trappies af. Net op daai oomblik sing die gemeente: “Here, Redder, groot en magtig, U het ook my hand kom vat.” Ons kyk vir mekaar en lag weer. Maar die keer met ‘n diep-weet in ons oë: Kerk was vandag teater van die Evangelie.

Re-laas:

♦   Ná Maart se 2 Wêreldbiddag vir Vroue byeenkomste wat besonder lekker was, was ek ook op 21 Maart deel van ‘n Wêreld Vrouedag byeenkoms met die tema:Dream, Believe, Make it Happen! Verskeie vroue (ook 2 uit Helderberg gemeente: Lise Tredoux en Nobuntu Matholeni) het daai dag vertel watter uitdagings hulle moes aandurf en oorkom om hulle drome (of soms net hulle lewens) te “make happen”. Ek het uiters bevoorreg gevoel om te kon skouers skuur met vroue van sulke deurdruk-stoffasie.

♦   Paasnaweek was ek by Mosaïek Gemeente in Fairland, Johannesburg metDriveway Divatjie, en het ook deel gehad aan ‘n groot konsert met verskeie ander kunstenaars en gesing tydens die Sondag se Opstandings-eredienste.

♦   Laas Dinsdag het ek Tulbagh se bejaardes (NG sowel as VGK) gaan vermaak met Driveway Divatjie en

♦   Die afgelope naweek het ek ‘n vrouekamp aangebied by George Bergsig, met die tema Tent-opslaan en God-gesprekke (oor menswees en heelwees) - ons het ‘n insiggewende en inspirerende stuk lewenspad met Josua saamgereis deur Eksodus, Numeri, Deuteronomium en die Josua boek. (Hoe ironies dat ek tydens die “heelwees”-erediens my enkel in sy glory in val)

♦   Ek kon ook weer ‘n paar artikels vir Kerkbode skryf – 1 oor ‘n gerehabiliteerde gangster, 1 oor ‘n kanker kindjie met ‘n mooi oorlewingsverhaal en 1 oor Badisa-mense se reaksie op die toneelstuk Rondomskrik. Vir LiG het ek, naas my maandelikse rubriek, ook ‘n artikel geskryf oor ouers se reis wanneer hulle ‘n kind op die Outisme spektrum het. Vir my persoonlik was die onderhoude met die mense oor wie ek moes skryf uiters verrykend en interessant. Ek is gelukkig om dit te mag doen!

Die teater van die Evangelie speel hom oral om ons en tussen ons uit: Stukkende, vallende, seer mense word omarm en opgehelp en liefgehê. God vat hulle hand.

Gelukkig is ons wat daaraan deel het!

Ek groet jou, Begenadigde,

Annalise