Facebook

    

 

eet turmeric en cherries en hou moed

Pynlik stadig en weggesink in my eie kokonwêreldjie, wat tans maar grys is soos ‘n wintersee, kruie ek gister deur die Mall. Klomp mense blits by my verby. ‘n Uitsonderlike een val langs my in. ‘n Jong reus – maklik een en ‘n half maal my lengte. Hy pas sy stap spoed, afgemete, gefokus, by myne aan. Sê niks. Smile en kyk net vir my.

Jy ken van krukke-loop, sê ek.
Ja, sê hy, ek het ook op ‘n tyd so aangesukkel. Maar kyk hoe lekker loop ek nou!
En hy gee ‘n paar groot treë vorentoe om dit te bewys. Staan dan en wag tot ek weer langs hom kom. Stap stadig verder saam met my …
Hy sukkel nog bietjie met sy balans, maar andersins is hy okay, sê hy. Die vrolike jongman loop praat-praat met my tot by Edgars se deur:

Ek was mos in ‘n slegte ongeluk. ‘n Slegte ongeluk, Tannie. Ek was op ‘n padfiets, toe tref ‘n kar my. Vandag is dit 14 jaar, 7 maande, 3 weke en 4 dae gelede. Kyk, hier sit die letsel aan my keel waar hulle die trachie ingesit het. Hy rammel sy rits beserings en behandelings vinnig af: Gebreekte nek, ribbes, fibula; breinbesering; kateter, trolliebed, rolstoel, krukke, kierie … Dit het laaaaaaank gevat om reg te kom. Dit was maar #@kkerig. (Sy enigste kragwoord. En dis nie vloek nie; dis opreg net sê-soos-dit-is). Sy mediese rekenings was ook ‘n kleinhuisie vol!
Ek kan dink, sê ek.
Nee, jy kan nie, sê hy. En hy lag.

Hy was graad 11 toe die ongeluk sy lewe om ver gooi. Het later matriek gemaak – oor 2 jaar, 3 vakke ‘n jaar. Ek was so stadig, verduidelik hy, so stadig! Maar ook so vasberade. En suksesvol. Nou woon hy in sy eie woonstel. Beduie vir my presies waar dit is, dat ek kan toet en waai as ek daar verby ry. En hy en sy Babyis al 6 jaar saam. Hulle trou binnekort, kondig hy trots aan. André Kobilewsky is sy naam. Hy is nou 32.

Het jy pyn?, vra hy my. Gebruik Turmeric. Hy vryf sy vingers teen mekaar, asof hy die fyn geel poeier tussen hulle kan voel. Turmeric, sê hy, in Engels; nie Afrikaans se gewone boere-borrie nie. Turmeric is anti-inflammatories, verduidelik hy. Maak vir jou ‘n smoothie. Bietjie louwarm klappermelk, en dan gooi jy ‘n teelepel heuning daarin en die Turmeric.
Hoeveel, vra ek, kwart teelepel? ‘n Halwe?
Nee, sommer ‘n hele teelepel! Nie meer nie. Jy wil mos nou nie putty maak nie. Jy wil dit nog kan drink. Maar gooi genoeg in. En bietjie swart peper daarby. Dit verbeter die werking.

Hy buk skielik vooroor. Vou my toe in sy lang arms, vas teen sy groot bors. Asof hy my wil troos teen die seer; wil krag gee. Sy spontane sorgsaamheid ontroer my. Sy byna kinderlike lewenslus lig my hart. Hy druk sy wang teen my gesig. Ruik, sê hy, ruik hoe lekker ruik ek. Nuwe naskeer. Pure goedhartigheid. Vonkel in die oog. Daar is groot genot in klein dingetjies.

Re-laas:

  • Soos jy kan agterkom is my gevalle voet nog op die herstel pad. Ek het al ver gevorder en het goeie moed dat ek binnekort weer gaan ligvoets wees. Dankie vir almal se aanmoediging. Soos André Kobilewsky, was elkeen van julle langs my net mooi wanneer ek julle die nodigste gehad het.
  • My hart is tans baie seerder as my voet. ‘n Vriend-wat-eintlik-al-soos-familie-was is laasweek oorlede. Die verlies oorskadu alles anders. Sy dogtertjie, my fairie-kleinkind, se hartjie is gebroke. Die res van ons s’n ook.
  • Werksgewys het ek sedert my vorige brief ‘n Welwees-dag aangebied vir Badisa Op-Die-Berg – ‘n dag wat ek waarskynlik nog meer geniet het as die gehoor, dit was sooooo lekker!
  • Ek was ook deel van die kommunikasie span by die Wes-en Suidkaap sinode van die NG Kerk – het deurlopend verslag gedoen op hulle Facebook blad. Dit is goed as mens ‘n ooggetuie kan wees van die kerk se saam-groei in geloof en liefde. Ek het bevoorreg gevoel om daar te wees.
  • Ek kon weer Lééf se retreat aanbied in Mei. Hierdie jaar was die tema: Die lewe is ‘n las-lap love song. Met die bottom line vraag: Hoe lief kan jy hê?  Soos elke jaar was dit hierdie keer ook iets wat ek nie sou wou mis nie. Daar is net elke keer so ‘n besondere warmte en liefde tussen almal wat dit bywoon.
  • Daarbenewens het ek ‘n vroue naweek by Driehoek gemeente in Vanderbijlpark aangebied – waaroor ek terloops ook ‘n storie vir Kerkbode geskryf het (oor die kunstenaar Tania Thandeka, wat skilderye gemaak het tydens elke sessie wat ek aangebied het). Ek het ook, saam met Hennie Swanepoel ‘n lekker sop en sjerrie Saterdagaand-konsertjie gehou in Melkbos ten bate van die ACVV. En 2 en ‘n halwe nuwe songs geskryf.
  • Die enigste optrede wat ek (met groot spyt) moes kanselleer weens die moonboot en krukke was ‘n fondsinsameling vir Huis Jabes, einde Mei, waarvoor mens meer energie en presence sou moes hê as wat ek toe kon bied.
  • Naas Tania Thandeka se storie vir Kerkbode, het ek ook vir hulle ‘n lekker artikel gedoen oor die Bergie-kerk wat elke Woensdagaand in Gordonsbaai gehou word. Jy kan dit lees in die 24 Julie uitgawe.
  • Die gewone LiG-rubrieke het onverpoos voortgegaan, met temas soos die trauma van huisbraak, die verkwikking van verstaan-word, en nou, vir September se uitgawe, ‘n tong-in-die-kies (of is dit tong in die KOS) oor almal se maniese ge-diet in die lente!
  • En vandag het ek 2 onderhoude opgeneem vir KRUISKYK se Mosaïek program – een oor wie ek is en wat ek doen, en een waarin ek van my stories voorlees – wat onderskeidelik op 13 en 20 Augustus uitgesaai word om 06:30 en weer herhaal op 15 en 22 Augustus om 15:30.
  • Gaan kyk bietjie op my webwerf – daar’s nou ‘n special op Driveway Divatjies!

André Kobilewsky groet my voor Edgars. Onthou nou die Turmeric, maan hy. En waar my woonstel is. Kyk vir die boonste vloer, middelste woonstel; die een met die netjiese aircon trunking. Eet piesangs. Dit boost jou serotonien. En eetcherries. Dis goed vir jou bloed. Varses. Nie daai soet #@k wat op die winkelrakke staan nie. Die regtes. Swart kersies. Vars cherries! Eet dit; dis goed vir jou.
En hou moed!, roep hy vir oulaas oor sy skouer. Kyk net hoe lekker loop ek nou!

Mooi loop, jy ook,

Annalise Wiid