Facebook

    

 

'n stil brug oor ons weerloosheid

Wanneer die jaar se wielewaal so begin afwentel – stadiger, stadiger, rustiger, kalmer, – vind ek dat ek weer helderder dink, dieper voel en fyner begin luister. Dit word stiller binne-in my. Stil. Ek hoor meer, helderder. En soms, soos die afgelope weke, wil ek my ore toedruk. Want wat ek tans in NG Kerk kringe hoor maak my hart seer: Woorde, frases, soos “ons distansieer ons van die gesprek” en, by implikasie ook dan van mekaar. Of “ons weerhou nou ons finansiële bydraes”.  Of “dis al weer die ou storie van mag en manipulasie”. Of, nog erger, “ons voel ons self nie meer veilig of tuis hier nie”. Stil.

Ek hoor soekende, sukkelende woorde soos “hoe help ek my kind hiermee?” Of "unity in the essential, liberty in the non-essential – maar is onvoorwaardelike liefde nie 'n essential nie?" Of “wat maak ek met die kwaad, die seer, die venyn, die apatie, die teleurstelling, die vernedering en gebrokenheid wat dreig om ons te verswelg?” Of, nog pynliker, “hoe bly staan ek tussen my twee broers, wat ek lief het, wat weerskante van my is, beide opreg seker van hulle saak, maar hulle kan mekaar glad nie vind nie; wat vra die Evangelie van Christus nou van ons?” En, o God, “wat word nou van die nagmaaltafel?”  Stil.

 

Ek hoor ook hande-uitsteek woorde en frases wat my moed gee, soos: “Ons verskil van mening, maar ons wil mekaar tóg probeer hoor”. Of “ons wil eerdermet mekaar praat, nie net van of oor mekaar nie”. Of “watter bydrae kan ons maak tot die kerk se welwese; hoe maak ons mekaar heel?” Of, nog mooier, “ons bly lief vir mekaar en aan mekaar verbonde; ons weier om mekaar te laat los!”  Stil.

Re-laas: 

  • Ek is letterlik weer op vrye voet. Die krukke en moonboot en fisio en kranklikheid is iets van die verlede. Ek kan weer dans.

  • Ek kon wonderlike optredes en retreats beleef by Mosselbaai, Kuilsrivier, Randburg, Newcastle, die Laeveld, Strand en Bettiesbaai. BAIE DANKIE aan elkeen wat dit bygewoon het en dit boonop nog so met oorgawe geniet het! Julle maak dit vir my die moeite werd!

  • Die voorreg om artikels vir Kerkbode te skryf het my met ‘n hele klomp uiters inspirerende mense in kontak gebring. Dit is regtig vir my vreeslik lekker om hulle stories te vertel. My lewe (en baie ander mense s’n) word so verryk deur hulle verhale!

  • En natuurlik was daar ook die lekker van elke maand se LiG rubriek – en mense wat my raakloop by optredes, of sommer in die dorp – en sê: “Ek het dit gelees. Dit het vir my baie beteken.” Hulle het geen idee hoeveel beteken dit weer vir my nie!

  • Nou lê daar nog net 2 optree geleenthede voor: Komende Sondagaand (29/11) se Kerssangdiens op Prins Alfred Hamlet en die daaropvolgende Sondagmiddag (6/12) die Kersdiens van die VGK op Tulbagh.

  • Tussendeur fokus ek op die klaarmaak van ‘n manuskrip vir ‘n volgende boek.

  • En begin beplan en repeteer ons aan die Kyk Haar Oë-show wat ek saam met Chris van Niekerk, Matthys Maree en Juan Oosthuizen by volgende jaar se Woordfees doen …

En dan, as dit alles afgehandel is, wil ek net stil word. Tuis kom, tuis bly. En rus.  Stil.

In die onrus wat tans oral om ons woed, nie net in die kerk nie, wil ek vrede herwin en dit weggee soos geskenke.  Stil.

Ek stuur ook vir jóú, met hierdie laaste-nuusbriefie-van-die-jaar, alles wat mooi en goed en verkwiklik en troosvol en helend is. Mag die dinge wat jou hart ontstig en seermaak oorspan word en toegedek word met die wonderbare “vrede op aarde” waarvan engele sing en waaroor God droom. Die soort vrede wat Jesus moontlik maak met sy lewe-neerlê-liefde.

“Stil het ek ‘n kers gebrand om jou donker te verlig … En oor die afgrond van jou weerloosheid bou ek toe ‘n brug”

So sing Hilandi du Toit op haar nuwe CD, Die Somer Het ‘n Geel Rok Aan

So, glo ek, sing God ook vir ons.

Dankie vir die brug tussen my en jou dwarsdeur die afgelope jaar!

Hart-groete,

Annalise