Facebook

    

 

en toe SMILE Hy ...

Geloof, Hoop & Liefde, die TV program, het vir my ‘n gebedskussing present gegee, vroeër vanjaar, toe Lindie met my ‘n onderhoud gedoen het oor Driveway Divatjie. Ek het gesmile en gesê: eendag skryf ek ‘n storie hieroor ... ‘n Bidkussing. ‘n Knielkussing. Maar ek kniel nie; lankal nie meer nie. Ek bid nog wel. Maar dit doen ek staan-staan. Of loop-loop. Sit-sit. Lê-lê. Stryk-stryk. In die kar. In die poskantoor tou. In die bed. In die bad. Voor die wasbak. Tuinslang in die hand. Of soms met my kitaar.

Maar hier aan die einde van die jaar, oorweeg ek sterk om weer te kniel vir ‘n slag. Om behoorlik en gepas dankie te sê vir die afgelope jaar se tientalle heerlike optredes en vir al die wonderlike mense wat my lewe verryk het. Ook vir die wonder van ‘n nuwe boek en ‘n nuwe CD in een jaar: Driveway Divatjie, in Maart 2013, Kyk Haar in November 2013. Die vrug van ten minste vyf of meer voorafgaande jare se hartswerk. Dit het ‘n groot smile op my gesig gesit!

Lees verder...

Kersfees in konteks

Hierdie jaar is dit De Doorns – die dorp waar ek as dogtertjie sulke sorgvrye, onvergeetlike vakansies by Oupa en Ouma omgekuier het. De Doorns – die dorp waaruit ons kinders ‘n paar weke gelede moes vlug toe arbeidsonrus die kleintjies se veiligheid bedreig. Die dorp waarvandaan tóé talle noodroepe gekom het. “Bid vir ons!”, het ek uit verskeie benoude oorde gehoor, en gewonder: Wie is ons? Net ons geliefdes en ons naastes? Of ons én ons werkers/werkgewers? Of ons hele onrustige land, wat weerkaats in ons uit-balans-uit, brandende, opgefoeterde vallei? En wat presies moet ek dan nou bid …? Wat is gebed in so ‘n konteks?

Lees verder...

'n fyn net

Ek het vir my ‘n vrolike geelbont rok gekoop. Pure freesia-ruiker en ranonkel tuin in die lente! Uitgelate. Dalk selfs ‘n tikkie uitspattig as jy my jare en postuur in gedagte hou. So what! Die rok is ‘n onbevange lag; ‘n guitige flirtasie; ‘n uitstrek-arms rondomtalie. Die rok is ook ‘n borswering. ‘n Hart-harnas van sagte, kleurvolle lap.

Jy sal vra: Hoekom? Hoe?

En ek sal sê: My blomtuin rok versag die aanhoudende gegrom van die soveelste renoster karkas, die soveelste korrupsie klag, die soveelste stuk snydende kerk kritiek,  die soveelste gekke moord, inbraak, opstand, vernietigde droom, vermorselde mens …

Help dit?, sal jy vra.

Lees verder...

'n Woord wat met jou wandel ...

Wandel in die Woord. Dis die nuwe benaming vir Bybelstudie wat ‘n mens deesdae in die kerk hoor. Wandel in die Woord. Of met die Woord. Ek vermoed dit verwys na Genesis se Eden gesprekke. In die begin was die Woord en die woord was God ... En saans, het die ou Bybel gesê, in die aandwindjie, het dié WoordGod gekom en met die mens in die tuin gewandel. Klink vir my wonderlik ontspannend en gemoedelik, so 'n tuinstappie saam met die Skepper.

Ek wonder hoe hulle geselse geklink het? Wens ek kon inluister en waarneem! Waaroor sou die mens met God wou praat so in die aandwind? En God met die mens? Dalk oor allerlei skeppingswonders? Seker nie sommer net oor koeitjies en kalfies nie? Of dalk juis daaroor? Maar dan seker in daardie begin-ontwaking nog met groot verwondering en plesier, want niks was toe nog alledaags of gewoon of afgeleef of vervelig nie. Alles was nuut en onontdek en opwindend, selfs die koeitjies en die kalfies!

 

Lees verder...

die siel se pas

Petra Müller het ‘n gedig geskryf: die kameel loop met die siel se pas

Môreaand, 22 Mei, lees (en sing) ek my 10 gunsteling gedigte op RSG se VERS EN KLANK (21:10 – 21:40) met Margot Luyt as gespreksgenoot. Ons het dit laas Woensdag opgeneem – en die dag was mild: stil see, genadige son, met Tafelberg betowerend in die ontelbare skakerings van vroegwinter se sagter blou. Ek het, toe ek by die ateljee uitkom, sommer ‘n ent langs die promenade gaan stap – teen die siel se pas – en net die klare dag oor my laat spoel, spoel ...

Lees verder...