Facebook

    

 

kerk , klokke, lewe en lekker!

Die Vrou het baie mooi hare. Natuurlik grys. Sagte krulle. ‘n Blink halo. En sy het ‘n breë mond wat maklik lag en spontaan gesels.

Ek ontmoet haar by die dokter – sy sit oorkant my – skuins gegooi op die rusbank met ‘n tydskrif op haar denim skoot. Haar oë is so donkerblou soos haar jeans. Drup in die arm. “Immune boost”, vertel sy, nog voor ek vra.

Die Vrou vertel my van haar handsak wat anderdag onder haar voete uit gesteel is terwyl sy sit en lees het by Exclusive Books in Cavendish. En van haar seun in Berlyn. En van haar werk as gesigspier terapeut. En van haar ander seun, hier naby, wat haar al so baie hartseer besorg het. En van haar dogter wat nog studeer en graag Paternoster toe ry oor ‘n naweek. Sy praat nie ‘n woord oor haar kinders se Pa nie. Die Vrou vertel my ook van haar kolon kanker. Van haar innerlike groei die afgelope jare …  Sy gee vir my ‘n piepklein elegante engeltjie, wat sy self maak. Die vlerkies vou toe om ‘n goue hart te vorm – Die Vrou maak seker dat ek dit sien. Sy vertel blinkoog van haar planne om binnekort terug te gaan Duitsland toe – Freiburg omgewing, daar onder, naby die bekoorlike Swartwoud.

 

Lees verder...

Makie saak hoe die wind waai nie!

“Sommige dae is daar genade”, sê Oom Muller Botha, “ander dae is daar dubbeld genade.” Ek leer by hom. Om so deur ‘n genade-bril te kyk, vra ‘n harts-ingesteldheid wat, soos ‘n sonneblom, altyd dankbaar en instinktief jou kop na die Lig toe draai.  “Jesus Christ, Inner Light, don’t let my darkness speak to me.”

Kort na Nuwejaar gaan kuier ons een oggend by Oom Muller en Tannie Retha. Sit in hulle sonstoepie, waar die dwergdoringboompie groei, en praat en lag en bid – alles in een onafgebroke, spontane, gemaklik-kabbelende stroom …  Later ry ons daar weg met handevol steggies om te gaan plant as ‘n vooruitsig op die groei wat die Nuwe Jaar gaan bring. Groei! – tuinlangs, breinlangs, werklangs, lewelangs, lyflangs (!) en sommer oralslangs. En ek kry ook nog ‘n pragtige potplantjie present; een met klokkiesblomme wat gelyktydig pienk en geel en oranje bloos, soos ‘n sononder oor die see. Vir hom gaan ek koester en oppiep tot hy ‘n bos word en kleintjies kry!

 

Lees verder...

toegedraai in doeke

God moes versorg word. Hy, die Onafhanklike, die Selfgenoegsame. Die Een van wie daar gesê word: “Wie bewys Hom ‘n guns sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”

Hy moes versorg word. Na omgesien word. Opgepas word. Gevoed, gewas, gesus en gedra word. Toegedraai in doeke. Só sorg-behoeftig mens het Hy geword.

Blootgestel aan, uitgelewer aan, ontvanklik vir die genadige versorging van Sy mede-mense.

Híéroor dink ek hierdie Kersfees.

Lees verder...

dans dan ...!

Gisteroggend skryf Philip Kotzé op Facebook: “Sing as jy praat en dans as jy loop.” En daarmee, met die “dans”-woord, sing hy my onmiddellik en onwillkeurig terug in laas week se sinode saal. Een van die songs wat by die opening gebruik is, was Sydney Carter se Lord of the Dance. Nogal vir my ‘n onverwagse, verrassende keuse. En telkens kon mens die meesleurende refrein daarvan deur die sinode-week hoor eggo. Die lied het duidelik die mense aangegryp.

Onthou jy die song? Ken jy dit? Laurika Rauch het dit ook opgeneem. Dit vertel Jesus se verhaal op ‘n Keltiese ritme in ‘n liedjie-neutedoppie. Met ‘n aansteeklike wysie wat vir dae lank deur ‘n mens se kop bly draai. As jy wil kan jy gaan luister hoe Carter self dit sing: http://www.lyricsmode.com/lyrics/s/sydney_carter/lord_of_the_dance.html

 

Lees verder...

traais en braais

Onthou jy daai landsvlag-sokkietjies wat ons oor ons tru-spieëltjies getrek het met die sokker wêreldbeker? Net vandag gaan ek my oorgeblewe ene soek en hom oor my petroltenkklappie trek. Vir die spangees – van die land en van die Bokke!  :-)

Hy lê daar iewers in die garage; ek moet hom net ‘n bietjie soek. Die ander ene – sy tweeling – lê iewers in die bosse langs die N2. My spoed en ‘n siedende Suid-oos se skuld. En hy’s seker nou al onherkenbaar verbleik en bevlek. Shame. Maar laat ons nie te lank en te diep daaroor dink nie. Kom ons steek liewer ‘n vuurtjie aan. En hou duimvas vir die Bokke en baie, deurslaggewende, drieë!!!

 

Lees verder...