Facebook

    

 

Mooiste mooiste mooi

Mooiste mooiste … Ek het hierdie week ‘n rubriek geskryf oor mooiste mooi dinge. Jy kan dit in Oktober se uitgawe van Lig lees … Kon aan soveel wondermooi dinge dink, dat daar nie plek in die rubriek se beperkte woordspasie was vir alles nie. Nou spoel dit maar oor in hierdie briefie:
In Cardiff se kunsmuseum hang een van Monet se waterlelie skilderye. Massief! Veel groter as wat jy jou dit voorstel uit kunsboek glans afdrukke. Enorm. Maklik twee by twee meter. En oorweldigend mooi! Só, dat ek, toe ek om die draai kom in die museum en myself onverwags daarin vasloop, onkeerbaar begin huil. Snak en snik gelyk. :-) Die lig, die kleur, die kwastekstuur, die gevoel wat dit in jou opwek, selfs die geur van water en groenigheid wat dit onwillekeurig in jou verbeelding loslaat – dit is die werk van ’n meester! >>

Lees verder...

Betekenis

Anderdag hoor ek van ‘n oom wat keer op keer weer vir sy vrou in die siekeboeg gaan kuier, al het sy Alzheimers en al ken sy hom lankal nie meer nie. Toe iemand vir hom vra: “Hoekom doen Oom nog die moeite – die Tannie weet tog nie meer wie Oom is nie?”, antwoord hy: “Maar ek weet nog wie sy is!”

So gaan sit ek ook nog soms by my Alzheimers vriendin in die siekeboeg. Meesal het haar leë oë nie meer die vaagste benul wie ek is nie. Maar ek weet nog wie sy is. Ek weet wie sy altyd sal wees, al steel die siekte haar tydelik. Ek weet hoe sy was. Ek ken haar: Die laggende een. Die liefdevolle. Die ruimhartige. Die bekwame. Die storieverteller met die skitteroë. >>

Lees verder...

Lavender

Vanoggend, vroegerig – nog voor die son so skreiend geniepsig geraak het en terwyl ‘n siedende suidoos reeds wolk en water genadeloos rondpluk – het ek die lavenderbosse hier onder my venster gesnoei. Ja, ek weet die suiwer-Afrikaanses praat van laventelbosse, maar laventel ruik mos nie soos lavender nie. :-)  Laventel ruik soos oumenssent en kantsakdoekies. Lavender ruik soos dagbreek se klammigheid, wanneer ‘n mens gemoedelik gelok word om moontlikhede te omarm. Laventel ruik soos donker gange en benoude kamers. Lavender ruik soos uitbundige ooptes en landerye en reise oor grense … Lavender is skemeraand se tuintroos as die dag uitgeput op die horison neersak. Lavender ruik, koesterend, soos wintertyd se warmbad. Lavender is, kragtig, pure uitgelate somersgeit: bye en skoenlappers en wieg-in-die-wind kleur! >>

Lees verder...

Anders

Die Kaap is grys vandag; maar nie lelik nie. Inteendeel! Sy het mos die vermoë om grys tot verrukking te omskep – ‘n simfonie van skakerings: duifgrys, blougrys, woedegrys en wind. Wolke, klowe, traangrys en klank … Stuwend. Stuitig. Buierig. Boom en blaar word opgeraap en lustig bespeel. Die see word haar dansvloer. Sy tango hom wild en onstuimig. Haar kop uitdagend, haar oë vuur. Net om hom, sekondes later, tot stilte te streel met ‘n reënsilwer laken.

Elders skyn die son. Stapel donderwolkverdiepings die bloutes in. Of lê die ooptes onversteurbaar en gelykmatig in die geduldige arms van die tyd. Elke plek en seisoen bekoor op sy eie manier. Soos mense. >>

Lees verder...

Woord-loos

ek was lank stil, ek weet. het niks gehad om te sê nie. en my pa het my kleintyd al geleer: dít is die heel beste tyd om jou mond te hou. nie dat daar nie hoevele dinge, hóévele wonderlike moeite-werd-dinge, gebeur het sedert ek laas geskryf het nie. my praatlus en skryflus was net vir ‘n rukkie weg – soos winterboomblare.

stilbly is soms baie goed. dit leer ek opnuut, en met intense verkneukeling, toe ‘n onverwagse stukkie wysheid anderdag uit die kleintjie se mond val. sy kuier hier en om een of ander rede begin praat ons oor hoofpyn. “you know what happens when you have a head ache?”, vra sy met ‘n uitdrukking van oerwysheid op die 5-jaar-oud gesiggie. “all the niceness inside of you turns upside down in your mouth and only the ugliness comes out.” slaan sy my vir ‘n stomme ses! :-) waar kry sy soveel insig? ongetwyfeld gebeur dit so. ding is net: dis nie noodwendig net kopseer wat die onderstebodraai veroorsaak nie. daar’s mos heelparty ander oorsake ook. >>

Lees verder...