Facebook

    

 

Ek sê ...

 
 

 

Hier is my hand en my hart,
hier's my lewe -
my voete bereid om U boodskap te dra,
kaalvoet, gewillig…                                                                  

(uittreksel uit titelsnit van KAALVOET)

 

Eendag, lank gelede, was daar 'n jongvrou wat só lief was vir Jesus dat sy dit op 'n spesiale manier vir Hom wou sê. Sy't gesoek-soek-soek… maar 'n spesiale manier is nie altyd so maklik te kry nie.

Op 'n dag in Mei, sit sy op 'n plaas buite Swellendam onder 'n groot ou akkerboom. Die son is lou, die middag lui. Hulle is alleen - net sy en Hy. Sy onthou 'n gedig wat sy onlangs oor Hom gelees het, sê die woorde daarvan hardop vir die veld, die voëls, die vonkelson, die pers berg se sagte skadu's. Skielik is daar 'n wysie by die woorde: spiksplinternuut en nommerpas - asof die woorde en die wysie spesiaal vir mekaar geskryf is! Sy sing dit. Verwonderd. Uitgelate. Oor en oor. Waar, wonder sy, kom dié mooi musiekie so uit die bloute vandaan?

En net daar, onder die vroegherfsboom, verras Jesus haar en sê:

Van My af. Want Ek is só lief vir jou dat Ek dit op 'n spesiale manier vir jou wil sê!

Dit was jare gelede. Die jongvrou is ek, Annalise - vandag ouer, ryper en nóg liewer vir Jesus. En die eerste liedjie het gegroei tot baie liedjies - voor baie gehore, in baie kerke, op baie dorpe. En mettertyd tot 3 CD's ook. (Kaalvoet, Naglied en Ons). Maar die boodskap van die musiek bly nog altyd dieselfde. Daarmee sê ek, op my manier, vir mense: "Jesus is besonder lief vir jou!!"

Musiek is maar één van my liefdes en ook maar net 'n deel van my bediening. Lering is 'n ewe groot liefde: om die opwindende rykdom van die Bybel vir mense oop te breek en te laat lééf!

Dít doen ek deur seminare en kampe aan te bied. Soos met die singery, gebeur dit ook hier en daar en oral…

Die lering fokus op die karakter van God, Sy wonderwerking in ons lewens deur die koms van Jesus en die Heilige Gees, en die elke-dag-leef-kant van gebed, geloof, hoop en liefde.

Met die seminare en kampe sê ek nie net vir mense: "Jesus is lief vir jou" nie - ek loop ‘n stukkie van die geloofspad saam met hulle. Ek help hulle (hopelik!) om ‘n bietjie meer te ervaar van hoe God is en hoe Hy in hulle wil leef. En hoe om in Hom te bly en deur Hom te leef. Dis 'n fantastiese voorreg. En ek geniet dit geweldig!

So mettertyd word hierdie lering-lekkerte vasgevang en verder gevoer in skryfwerk. Wanneer ek nie die land deur rondsing nie, sit ek voor die rekenaar en verwerk al die rykdomme tot stories en boeke - waarvan party al gepubliseer is in Abjater is ‘n Kuierkat, Dis Weer Daai Kat, My Eie Wysie (tans uitverkoop) en die mees onlangse: Skewe Snytjies Brood

Ek en Helena Conradie was ook dikwels op die verhoog met ons Boerneef-, Sheila Cussons- en George Weideman-programme: Makie Mooigoed Staan (Boerneef), Ek Word Tintelend Wakker (Cussons) en Doepa! (Weideman). Al drie is ook op CD vrygestel.

Helderberg (in Somerset-Wes) is my anker-gemeente. Die plek waarvandaan ek uitgestuur word. En ook my huistoe-kom-plek, my broodnodige behoortplek in die holderste-bolder, halsoorkop, rondrits-lewe wat my opwindende werk meebring.

 

Daar was ‘n vrou wat die Here wou ken.
Daar was ‘n vrou wat behoeftig en uitbundig aanbid het.
Daar was ‘n vrou wat soms makliker geglo het, soms moeiliker en soms glad nie kon nie.
Daar was ‘n vrou wat betower is deur Afrikaans.
Daar was ‘n vrou wat die Bybel versigtig en opgewonde en verwonderd gelees het.
Daar was ‘n vrou wat soekend en struikelend en huilend en jubelend geleef het.
Daar was ‘n vrou wat baie gehad het en baie ontbeer het.
Daar was ‘n vrou wat bely het God die Almagtige, is haar Vader, vir ewig,
Jesus Christus is haar Verlosser, vir ewig,
En sy Heilige Gees is die bron van haar lewe en Hy bind haar onlosmaaklik aan sy kerk.

 

Ek sing songs en skryf stories wat uit my hart uit kom – uit my saamleef met God. Dit reflekteer die sweef- en die strompelkant van christenwees. Daarom, glo ek, help dit ander mense op hulle geloofspad. Dit reflekteer ook God se onuitputlike genade en begrip vir ons. Daarom bemoedig dit nie net gelowiges nie, maar trek dit selfs ook ongelowiges nader na Jesus toe. Presies hoe dit gebeur, weet net die Heilige Gees. Ek weet net: Ek staan in Sy skadu en verwonder my!