Wanneer die jaar se wielewaal so begin afwentel – stadiger, stadiger, rustiger, kalmer, – vind ek dat ek weer helderder dink, dieper voel en fyner begin luister. Dit word stiller binne-in my. Stil. Ek hoor meer, helderder. En soms, soos die afgelope weke, wil ek my ore toedruk. Want wat ek tans in NG Kerk kringe hoor maak my hart seer: Woorde, frases, soos “ons distansieer ons van die gesprek” en, by implikasie ook dan van mekaar. Of “ons weerhou nou ons finansiële bydraes”. Of “dis al weer die ou storie van mag en manipulasie”. Of, nog erger, “ons voel ons self nie meer veilig of tuis hier nie”. Stil.
Ek hoor soekende, sukkelende woorde soos “hoe help ek my kind hiermee?” Of "unity in the essential, liberty in the non-essential – maar is onvoorwaardelike liefde nie 'n essential nie?" Of “wat maak ek met die kwaad, die seer, die venyn, die apatie, die teleurstelling, die vernedering en gebrokenheid wat dreig om ons te verswelg?” Of, nog pynliker, “hoe bly staan ek tussen my twee broers, wat ek lief het, wat weerskante van my is, beide opreg seker van hulle saak, maar hulle kan mekaar glad nie vind nie; wat vra die Evangelie van Christus nou van ons?” En, o God, “wat word nou van die nagmaaltafel?” Stil.