die siel se pas

Petra Müller het ‘n gedig geskryf: die kameel loop met die siel se pas

Môreaand, 22 Mei, lees (en sing) ek my 10 gunsteling gedigte op RSG se VERS EN KLANK (21:10 – 21:40) met Margot Luyt as gespreksgenoot. Ons het dit laas Woensdag opgeneem – en die dag was mild: stil see, genadige son, met Tafelberg betowerend in die ontelbare skakerings van vroegwinter se sagter blou. Ek het, toe ek by die ateljee uitkom, sommer ‘n ent langs die promenade gaan stap – teen die siel se pas – en net die klare dag oor my laat spoel, spoel ...

 

Frases uit die gedigte het saam met die meeue, stadig en grasieus, in die blou om my bly draai:
die son loop sonder kieries of toue soos reuk
deur die land  –  breyten breytenbach
ek het my hoof in sy hals gelê
want wat kon ek sê, wat kon ek sê?  –  sheila cussons
kom, lê jou woorde saggies in my mond soos reën  –  george weideman
en in my oë het jy sterre aangesteek,
te helder om te vlug vir die daglig  –  elizabeth eybers
en laat haar onbesonne
lag, o Here, laat haar weer lag en as dit by u mag
ook onbedaarlik huil  –  fanie olivier
Daar is ook nog gedigte van Lina Spies, Van Wyk Louw, Olga Kirsch en TT Cloete in die program …

 

Ek het Petra Müller se gedig gekies as die laaste een van die 10 gedigte, die een wat die program nie net afsluit nie, maar afrond, want gedigte kan dit vir my doen: my weer intrek in daai diep, onpeilbare ritme wat my in pas bring met my eie siel; ook met die siel van alle dinge, én met die hart van God.

 

Luister môreaand RSG – VERS EN KLANK (21:10 – 21:40), dan lees ek vir jou my hart-verse …!  Smile

Groete,

Annalise