Facebook

    

 

en toe SMILE Hy ...

Geloof, Hoop & Liefde, die TV program, het vir my ‘n gebedskussing present gegee, vroeër vanjaar, toe Lindie met my ‘n onderhoud gedoen het oor Driveway Divatjie. Ek het gesmile en gesê: eendag skryf ek ‘n storie hieroor ... ‘n Bidkussing. ‘n Knielkussing. Maar ek kniel nie; lankal nie meer nie. Ek bid nog wel. Maar dit doen ek staan-staan. Of loop-loop. Sit-sit. Lê-lê. Stryk-stryk. In die kar. In die poskantoor tou. In die bed. In die bad. Voor die wasbak. Tuinslang in die hand. Of soms met my kitaar.

Maar hier aan die einde van die jaar, oorweeg ek sterk om weer te kniel vir ‘n slag. Om behoorlik en gepas dankie te sê vir die afgelope jaar se tientalle heerlike optredes en vir al die wonderlike mense wat my lewe verryk het. Ook vir die wonder van ‘n nuwe boek en ‘n nuwe CD in een jaar: Driveway Divatjie, in Maart 2013, Kyk Haar in November 2013. Die vrug van ten minste vyf of meer voorafgaande jare se hartswerk. Dit het ‘n groot smile op my gesig gesit!

Maar ek wil nie net uit dankbaarheid kniel nie. Ek wil ook kniel uit besorgdheid. En in afwagting vir die jaar wat kom. Ek wil kniel vir jóú. En daar is net één gebed in my hart: Vir geloof, hoop en liefde. Geloof – genoeg om te bly rekening hou met God se Immanuel-geit - dat Hy altyd deel is van die prentjie ... Hoop – genoeg om te bly rekening hou met tweede en derde en vierde en soveelste kanse ... En liefde – genoeg om te bly rekening hou met elke mens se onskatbare waarde ...

Baie dankie dat jy in 2013 my geloof, hoop en liefde aangevul het met jou menswees en jou ondersteuning. My Kersgeskenk vir jou is hierdie fantastiese en ontroerende video:   http://distractify.com/people/amazing/pentatonix-little-drummer-boy/

Die mooiste woorde daarin, vir my, is: Then He smiled at me

Mag jy Hom in die komende Kerstyd sowel as in 2014 ongetwyfeld en dikwels met genoegdoening sien smile

Liefdegroete,

Annalise